Ben Fourie

“Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan my.”  Levitikus 20:8

Die 1933/1953 vertaling sê “Ek is die Here wat julle heilig”

Die boek Levitikus is by uitstek die boek wat volgepak is met wette en voorskrifte oor alles wat die lewe van die Israeliete geraak het. Daar word geskryf oor die huwelik, seksualiteit, mediese sake, ekonomie, feeste, offerandes, moraliteit en die gee van tiendes en nog talle ander sake. Die straf vir oortreders van sekere van die voorskrifte is vir ons van ’n ander era dikwels ongenaakbaar en die oproep “wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig” lyk totaal onhaalbaar. As heiligheid afgehang het van die nakoming van elke lettertjie van die wet, was dit van die begin af ’n hopelose saak.

Kan ’n mens ooit heilig wees? Kan ek ooit heilig wees? Ons begrip van wat heiligheid beteken word dikwels verwring deur die idee dat heiligheid sinoniem is met super geloof. Niks kan vêrder van die waarheid wees nie, want heiligheid is nie iets wat deur my sterk geloof of goeie werke of wat ook al verwerf kan word nie. God is M’Kaddesh, die Here wat ons heilig. Heiligheid kom dus van God af en hiermee probeer ons nie ’n agterdeurtjie kry vir ’n netelige probleem nie.

Die woord heilig beteken om anders of afgesonder te wees. As ons van God praat as heilig, beteken dit dat Hy heeltemal anders is as wat ons kan weet of ken. En dit is wat heilig wees ook vir ons beteken. God kom maak ons anders. In die tyd van Levitikus maak hy sy volk anders as die heidense volke by wie die sedelike en morele en godsdienstige voorskrifte wat Hy vir sy volk gee, juis afwesig is. Sy voorskrifte is nie om die lewe van sy volk onmoontlik of moeilik te maak nie, maar om hulle anders te maak.

Ook vir ons beteken heiligheid nie om super gelowig te wees nie, maar om anders as die wêreld te wees, anders in hoe ons praat, dink en optree. En veral anders in hoe ons oor ’n Opperwese dink. God skenk ons die anders wees deur die geloof.

Gebed: Ons dank U die Heilige God dat U ons ook vir Uself afsonder. Amen