Ben Fourie

“Jerusalem daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help, in sy Majesteit ry hy op die wolke. Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou…” Deuteronomium 33:26-27

Die Brandberg in Namibië was vir my ’n besondere belewenis. Dit was baie warm en vanweë die droogte het drie woestyn olifante die kloof bewoon en moes ons, in plaas van die makliker roete, oor heuwels en deur dongas stap. Dit was net ek, my vrou, drie jongmense uit Frankryk en ons gids. Alhoewel ek al op verskillende plekke in Suid-Afrika rotskuns van die San gesien het, was hierdie ’n spesiale belewenis. Wat is daar in die mens, het ek gewonder, wat hom van die vroegste tye af dryf om iets na te laat wat lank na sy dood nog sal bly voortbestaan?

Dit manifesteer ook in selfs die oudste godsdienste van die wêreld, hierdie soeke na iets groter as die mens, iets meer blywend as die paar jaar wat ons elkeen op die aarde is. Ons soeke hierna laat ons glo in wat ons noem die ewige lewe, maar voor daar ’n ewige lewe kan wees moet daar eers ’n ewige God wees – El Olam van die Bybel. Voor tyd en ruimte nog bestaan het, was God daar.

Die hele Deuteronomium 33 is Moses se afskeidspreek voordat hy op berg Nebo sou sterf. Die preek is ’n groot seënbede vir elke stam en vir Israel in die geheel, maar die hoogtepunt is verse 26 en 27. Moses wat die groot leiersfiguur was gaan sterf, maar die volk hoef nie bekommerd te wees nie, want die ware skuilplek lê nie by mense nie, nie by leiers nie, maar by die ewige God. Mense se tyd gaan verby, maar God is ewig, Hy is jou skuilplek, Hy dra jou elke dag in sy arms en wanneer die sandloper vir jou hier op aarde leeggeloop het, is die Ewige ook daar.

Gebed: Ons as eindige wesens kan nie anders as om U te loof omdat U ewig is en ook vir ons wat sterflik is die ewige lewe skenk nie. Amen