Ben Fourie

“Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is …” Josua 3:10

In die grootse werk Also spracht Zarathustra deur die filosoof Friedrich Nietzsche, ontmoet Zarathustra ’n ou heilige wat in ’n bos woon en gaan in gesprek met hom. Zarathustra sê: “Ek het die mens lief”, maar die bos heilige antwoord: “ek het tans God lief”. Dan wonder Zarathustra of die ou bos heilige dan nog nie gehoor het dat God dood is nie. Nietzsche was nie die eerste wat daaroor nagedink het nie, maar in die geskiedenis word die “God is dood” idee aan hom gekoppel.

Die sogenaamde Verligting beweging in die negentiende eeu het die mens in die sentrum geplaas en die gedagte van die “Übermensch” in Nietzsche se filosofie tot gevolg gehad, die mens wat homself voortdurend moet oorskry en in die proses optree as verteenwoordiger van alles wat bestaan. So word die mens selfgenoegsaam en so sterf God dan in die woorde van Nietzsche: “Nou het hierdie God egter gesterf! Julle hoogste mense, hierdie God was julle grootste gevaar. Sedert hy in die graf lê het julle weer opgestaan”.  (Aanhalings uit: Friedrich Wilhelm Nietzsche – Filosoof met ’n Hamer deur WP Esterhuyse).

Josua se ervaring in ons skrifgedeelte is egter heeltemal anders. Wanneer die volk van God op die punt staan om die Jordaan oor te steek en so die beloofde land in te gaan, lê daar groot gevare voor, veral wat die vyandige volke wat reeds daar gewoon het, betref. Josua bemoedig dan die volk en sê dat die teken van God se teenwoordigheid, naamlik die verbondsark, saam met hulle sal optrek. Dan gebruik hy die naam El Chay – die Lewende God, lewend in teenstelling met die dooie afgode van die ander volkere in Kanaän. Israel hoef nie bang te wees vir die vyand en hulle afgode nie, hulle God leef.

Nietzsche was verkeerd, ons God leef en na Jesus se opstanding uit die dood leef ons saam met hom.

Gebed: Ons loof en prys U as die lewende God, die Een wat nie deur filosofieë of menslike denke tot sterwe gebring kan word nie, omdat U van ewigheid af reeds daar is.  Amen