Ben Fourie

“Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God, Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.”  Deuteronomium 7:9

Daar is min dinge in die lewe wat ’n mens so ongelukkig maak soos ontrouheid. Ontrouheid kan vele vorme aanneem. Dit kan iemand wees wat nooit sy beloftes nakom nie, iemand wat altyd laat is, ’n werker wat laat slaplê sodra die toesighouer haar rug draai, iemand wat ontrou is as dit kom by die gehoorsaamheid aan reëls of iemand wat jy nie met geld kan vertrou nie. Seker die slegste van almal is wanneer daar ontrouheid binne verhoudings is. Ontrouheid op watter vlak ook al laat ’n galbitter smaak in jou mond.

Aan die anderkant is daar min dinge wat ’n mens so gelukkig maak as absolute getrouheid. Selfs die getrouheid van ’n hond waarvan daar soveel pragtige verhale is laat mens lekker voel. As ’n mens honderd persent seker is dat wanneer jy ’n probleem het jou lewensmaat, ouer, broer of suster, vriend of vriendin of iemand wat saak maak daar sal wees om jou te help, is dit een van die grootste stukke sekuriteit wat mens maar kan verlang.

Sielkundiges sê dat hierdie soort sekuriteit van die heel belangrikste dinge vir ’n gesonde gees en liggaam is. ’n Sterk betroubare basis van ondersteuning help mense om baie minder spanning te beleef. Om iemand te hê wat jy met jou lewe kan vertrou, gee vir jou vastigheid in die lewe.

Soveel te meer as ek op God kan vertrou. Ons teksvers sê tog baie duidelik wie Hy is. El Hanne’eman in Hebreeus – betroubare God. Hy het ’n verbond met ons gemaak dat Hy ons God sal wees en Hy het die verbond so getrou nagekom dat dit sy Seun, Jesus Christus, se lewe gekos het. Hy het beloof om ons lief te hê en Hy doen dit elke dag. Hy laat my nooit in die steek nie, is altyd daar.

Hoe betroubaar is ek en jy?

Gebed: Getroue Here maak my tog asseblief getrou in alles wat ek doen en veral in my aanbidding van U.  Amen