Ben Fourie

“Oor u wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.”  Psalm 9:3

In die Bybel word van God in die oortreffende trap gepraat. Nie hoog of hoër nie, maar El Elyon – Allerhoogste. Volgens die Afrikaanse Bybelkonkordansie kom die woord Allerhoogste sewe en veertig keer in die Ou Testament voor en ook tien keer in die Nuwe Testament.

Die aangrypende Psalm wat ons hier aanhaal, het as opskrif “Die Here red die hulpelose” en is waarskynlik deur Dawid geskryf na ’n tyd van spanning en oorlog toe God hom uit groot gevaar gered het. Wanneer hy dan ’n lofsang oor God sing, kan hy geen beter Naam vind as Allerhoogste nie, inderdaad die God wat groter is as alles en almal. In die afgod aanbidding van volkere wat in die omgewing gewoon het, was daar dikwels ’n hiërargie van gode soos ook later in die Griekse, Romeinse en Skandinawiese mitologie aangetref word, met ’n hoofgod en talle ondergeskikte gode. Teenoor hierdie nietige afgode staan die enigste ware God, die Allerhoogste.

In die boek Daniel waar die naam Allerhoogste vyftien keer voorkom, weliswaar in Aramees omdat die boek in beide Hebreeus en Aramees geskryf is, word God in dié geval teenoor die wêreldse konings gestel. In die boek lees ons dat koning Darius op aanbeveling van sy amptenare homself as ’n god uitgeroep het. Almal moes hom aanbid op gevaar af om in die leeukuil te beland as jy nie die bevel gehoorsaam nie. Ons ken die storie oor hoe Daniel in die leeukuil beland het omdat hy steeds die Allerhoogste bly aanbid het. Ook wêreldse konings, presidente, keisers en regerings is nie bo God verhewe nie. Hy bly die Allerhoogste en sy voorskrifte vra groter gehoorsaamheid as die wette van die sekulêre wêreld.

Waar staan God in jou en my lewe? Staan Hy vanweë ons besige lewens dalk op die onderste trappie? Het ek Hom nie dalk gereduseer tot net nog een van die baie dinge wat iewers in die dag ’n paar oomblikke van my tyd en aandag moet kry nie? Hy sal nie daarmee tevrede wees nie, want Hy wil die Allerhoogste wees in elke faset van my lewe.

Gebed: Help my asseblief dat ek nie so verstrik raak in die geroesemoes van die lewe dat ek vergeet U is en bly die Allerhoogste nie.  Amen