Ben Fourie

“Ek is God die Almagtige …” Genesis 17:1b

Vir ons as klein seuntjies was iemand wat sterk is baie belangrik. My pa is tog sterker as jou pa, het dikwels in gevegte ontaard. Argumente oor wie van Herkules, Simson of Superman die sterkste is, het soms tot vuisslaan gelei. Boer van Rensburg het deur die land getoer en kragvertonings gelewer wat ons monde laat oophang het. Ook in die verskillende ou godsdienste en mitologië was die stryd tussen watter een van die gode die sterkste is dominant.

Dan kom die God van die Bybel en sê vir Abraham; “Ek is El Shaddai – die Almagtige”. Uit en gedaan. Niemand is soos Ek nie, niemand het meer mag oor hemel en oor aarde as Ek nie, niemand kan die reën laat val of die donderweer laat dreun behalwe Ek nie, niemand kan ’n verbond met jou sluit behalwe Ek nie.

Alhoewel daar verskeie menings is oor die vertaling van Shaddai, is die algemene konsensus dat dit met Almagtige vertaal word. Daar is meer as driehonderd verwysings na God as die Almagtige in die Ou Testament, maar dikwels word Jahwe Sabaoth, Here van die leërskare, ook met Almagtige vertaal. Om El Shaddai egter net as die Almagtige te vertaal in die sin van sterkste van almal, doen afbreuk aan die ryke inhoud van die naam. Die naam verwys ook na Hom as die volkome of volledige God. Hy is nie die Een wat met brute krag alles na sy wil skik en buig nie, maar Een wie se almag juis geleë is in die feit dat Hy die volledige God is, by Hom kom niks kort nie.

Dan is dit werklik amper ondenkbaar dat God wat al die mag het, sy Seun so volkome magteloos aan die kruis laat hang het sodat ons bemagtig kan word tot die ewige lewe.

Gebed: Ons dank U dat U wat al die mag in hemel en op aarde het, U neergebuig het na ons, nietige skepsels en van ons u kinders gemaak het.  Amen