Ben Fourie

“Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het…”  Genesis 2:4b

Elohim, Here God, of in hierdie konteks dan ook Magtige Skepper. Dit is nie meer vir my maklik om plat op my maag te lê nie, maar onthou jy nog die verwondering toe jy as kind plat op jou maag by ’n miernes gelê en kyk het na al die bedrywigheid. Elke nietige mier, elke korreltjie sand en stukkie van ’n droë blaar wat hulle ronddra is deur God gemaak. Natuurlik was daar evolusie. Die droë blaar kom van ’n plant wat in die tyd van die dinosouriërs waarskynlik nie eers bestaan het nie. Ook die mier is nie meer dieselfde nie, maar elke ontwikkeling in die hemel en op die aarde is in God se groot skeppingsplan ingebou.

Onlangs staan ons buite na die hemelliggame en kyk en ek wys vir my twee kleindogters verskillende sterrebeelde soos Orion en die Suiderkruis en verduidelik dat die sterre elkeen ‘n son is. Sterre stel energie in die vorm van lig vry wanneer twee waterstofatome saamsmelt om ’n heliumatoom te vorm. Hierdie magtige enjin waarvan daar biljoene in die heelal is, is God se werk. Wanneer ek my vuurtjie aansteek is die vlam wat my kos gaarmaak opgegaarde sonlig, ook dit kom van God af.

Beweeg jy na die kwantum wêreld, is selfs groot wetenskaplikes verstom oor die werking van die kleinste deeltjies van die heelal, deeltjies waaruit alles opgebou is. Ook in die nietigste onderdeeltjies van die heelal is God se hand.

Nog te meer by die skepping van die mens. Onlangse paleoantropologiese ontdekkings het weer die lig laat val op die moontlikheid dat die mens sy ontstaan in Suidelike Afrika gehad het. Ook by die mens was evolusie betrokke, maar agter alles is die hand van die Almagtige Skepper van Genesis. Ek is wel deel van die soogdierfamilie, maar boweal is ek mens omdat God in my die asem van die lewe geblaas het en my in teenstelling met die diere, ’n siel gegee het.

Gebed: Ons bid saam met die digter van Psalm 19: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend”.  Amen