Ben Fourie

 

Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”  Eksodus 3:14

 

Skrifaanhalings uit Eksodus 3. Lees asseblief die hele hoofstuk.

 

In die woestyn waar hy skape oppas, sien Moses ’n bos wat brand maar nie uitbrand nie en hy dink “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk” Wanneer God sien dat Moses nader kom, roep Hy uit die bos na hom en sê “ trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Dit kan ook vertaal word as “heilige grond”. Woestyngrond word heilige grond wanneer God teenwoordig is. Die begrip heiligheid beteken om afgesonder te wees, opsy gesit te wees, drasties anders as die gewone. Wanneer ons van God se heiligheid praat dink ons aan Hom as die gans andere, ja so anders as die mens dat ons kaalvoet moet nadergaan.

 

Dit laat Moses met ’n groot probleem. Wie is die God wat deur sy verskyning die gewone woestyngrond skielik heilige grond maak. Wat sê ek vir die volk wat al so lank in Egipte is, wat dalk al vergeet het. Wat is u Naam en wie is U vra hy. God antwoord hom met die enigmatiese naam: “Ek is wat Ek is”. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur”. God in aksie, sou ’n mens kon vertaal. JAHWE is die dáár wees God, die teenwoordige Een, die Een wat hulle uit die Egiptiese slawerny wil uitred en na die beloofde land wil lei. Hy is die God van hulle voorvaders, van Abraham, Isak en Jakob. Daarom moet Moses vir hulle kan sê dat “Ek is” hom na hulle toe stuur. In Deuteronomium 6 vers 4 word die naam JAHWE in die konteks van “Hy is die enigste Here” genoem.

 

Wat ’n wonderlike wete dat hierdie “Enigste Here” hierdie  heilige “Ek is” ook jou en my God is, totaal anders, aktief en dààr wanneer ek Hom nodig het, die Een wat ook vir my uitgelei het uit my persoonlike Egipteland, waar ek slaaf was van my eie sonde en bekommernis, tot in die beloofde land van sy vrede.

 

Gebed: Baie dankie dat U ook elke dag vir my “Ek is” wil wees. Dankie, dat U aktief in my lewe teenwoordig is.  Amen