Neville Turley

Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. Johannes 20:31

Johannes het hierdie vers neergeskryf om die doel van sy Evangelie te verduidelik. Hy was nie meer dieselfde Johannes as die een wat op 'n keer vir Jesus gevra het of hulle vuur uit die hemel moes afroep om die Samaritane te verteer wat geweier het om Jesus in hulle dorp te ontvang nie. (Lukas 9:51-56)

Onder die leiding van Jesus het Johannes verander van 'n wraaksugtige mens na 'n apostel van liefde.

Johannes se ondervinding is nie uniek nie. Niemand wat sy hart vir Jesus oopmaak, is ooit weer dieselfde nie. Hy aanvaar ons en vorm ons na sy beeld. Die proses stop ook nie daar nie.

Die ou Engelse gesegde “God uses those he chooses” geld vir ons almal.  “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom” (Markus 16:15) is nie 'n opdrag wat die Here slegs tot sy elf dissipels beperk het nie. Om hierdie opdrag effektief uit te voer, benodig 'n reuse spanpoging in elke geslag.

Johannes het sy Evangelie geskryf, maar ander het na hom gekom om die goeie nuus te versprei dat deur in Jesus te glo, 'n mens die ewige lewe kan hê. Vandag is dit ons beurt om hierdie opdrag van ons Here Jesus Christus uit te voer.

Hierdie Kerstyd is 'n uitstekende tyd om opnuut te kyk hoe ons met hierdie taak vorder.

Die Bybelgenootskap bestaan om die Bybel, God se woord van verlossing en liefde, te vertaal, te publiseer en te versprei. Die Genootskap beskik oor 'n infrastruktuur om wêreldwyd Bybels beskikbaar te stel, maar hulle kan dit nie sonder ons gebede en volgehoue ondersteuning doen nie.

Kan jy aan 'n beter geskenk dink as om in vennootskap met die Bybelgenootskap die lewegewende Woord van God aan die wêreld beskikbaar te stel?

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om u Groot Opdrag uit te leef. Help ons om deur die krag van die Heilige Gees in liefde na ander met u lewegewende Woord uit te reik. Ons bid dit in die Naam van ons Verlosser. Amen