Dag 21: God se tyd is perfek - 29 November 2019

Benescke Janse van Rensburg

Ek wil die reeks afsluit met ’n persoonlike getuienis van hoe ek God se goedheid oor die afgelope 11 weke in my lewe beleef het. In die tweede week van September het ek my been gebreek. Ek is geopereer. Twee weke daarna het ons na ’n nuwe huis getrek. My ma kon gelukkig uit die Vrystaat kom help pak en trek aangesien ek totaal afhanklik van almal om my was.

Aangekom in die nuwe huis, het die swaar bokse tot teen die dak gestaan. Een oggend, uit pure frustrasie, het ek besluit om ’n werksgeleentheid in te stuur na Radio Tygerberg se Werksverskaffingsbulletin. Weekliks word luisteraars in dié inset van werksgeleenthede vertel waarvoor hulle kon aansoek doen. Ek het die versoek as Mevrou Botha (my ma) ingestuur wat iemand benodig om te kom uitpak en bokse skuif. Die aansoeke het ingestroom. Hoe op dees aarde sou ons die regte aansoeker kies? My ma se voorstel was dat ons net bid en vertrou dat God ons sou lei. Uit die bykans 70 WhatsApp-boodskappe, het ons vir Veronica gekies.

Veronica het opgedaag en binne die eerste dag reeds ’n groot verskil gemaak. Tussen die uitpak deur, het ek uitgevind dat sy eintlik ’n opgeleide joernalis is wat vir ’n groot mediagroep in Suid-Afrika gewerk het voordat sy Kaap toe getrek het. Sy was egter reeds vir 11 maande by die huis. Ten spyte van meer as 300 CV’s wat sy uitgestuur het (en die feit dat sy 6 tale magtig is), kon sy net nie ’n werk kry nie. In die verbygaan het sy genoem dat sy ’n bestuurslisensie het.

Die aand toe Veronica vertrek het dit my getref dat ek ’n bestuurder gaan benodig wanneer my ma terugkeer huis toe aangesien ek vir ses weke nie kon bestuur nie. Gou het ek daarin geslaag om te reël dat Veronica in die nuuskantoor by die radio kon uithelp terwyl ek uitgesaai het. Sy sou in elk geval andersins net sit en wag. Die bestuur het haar 3 dae gegee om haarself te bewys. Sy het en gou is sy met oop arms verwelkom om vir die res van die tyd wat sy my rondry daar uit te help. Op die laaste dag van die rondry is Veronica as joernalis aangestel in ’n nuwe afdeling by die radio.

In die 11 maande sonder werk, moes Veronica opnuut leer om God vir voorsiening te vertrou. Dag na dag het sy Hom ook gevra om vir haar ’n deur oop te maak vir werk. Op die dag en manier wat sy dit die minste verwag het, het God vir haar ’n veel beter deur oopgemaak as wat sy op gehoop het.

Met die Bokbus se rit deur die Kaapse strate om die Rugby Wêreldbekeroorwinning te vier, was Veronica een van die min joernaliste wat ’n geleentheid gehad het om op die bus saam met die Springbokke deur die strate te ry. Hoe radikaal het haar lewe nie binne twee maande verander nie?!

In Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Ook in Openbaring 3:8 lees ons: "Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie."

God se tyd is nie ons tyd nie. Hy het aan my voorsien in elke behoefte wat ek gehad het. Hy het vir Veronica se verwagtings oortref. My gebed is dat ons nooit sal ophou om Hom te vertrou nie. Wat vir mense onmoontlik lyk, is vir Hom moontlik. Sterkte.

Vader God baie dankie dat U steeds wonderwerke doen. Help my asseblief om nie moed op te gee as my deurbraak bietjie lank neem nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van my en Veronica hier:
  o http://benescke.co.za/dag-21-god-se-tyd-is-perfek
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Baie dankie vir elke terugvoer epos wat ek ontvang het. Dit bly ’n groot voorreg om te ervaar hoe God deur sy Heilige Gees in lewens werk. Gee gerus terugvoer van die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Tot ’n volgende keer. Groete, Benescke