Benescke Janse van Rensburg

Op 5 Augustus 2017 het Hannes Pieterse van Bloemfontein se lewe ingrypend verander. As 'n kranige valskermspringer het hy reeds 210 valskermspronge agter sy naam. Hier is sy getuienis:

Hannes: "'n Klomp valskermklubs het daardie naweek in Augustus in Klerksdorp saamgetrek. Ek het vooraf vier spronge vir myself bespreek. Alles het goed verloop. Rondom 16:00 die Saterdagmiddag het ek en agt ander springers in die vliegtuig opgestyg. Dit was my laaste sprong vir die naweek. In dié sport is streng reëls om veiligheid te verseker.

Op 13,000 voet het die eerste drie valskermspringers uit die vliegtuig gespring. Vyf sekondes later was dit my en drie ander se beurt. Die orige twee mans sou weer vyf sekondes wag voordat hulle uitspring. Weer het alles goed verloop totdat ons 'n hoogte van 950 voet (sowat 300m) bo die grond bereik het. Meteens het een van die twee laaste springer, Deon, deur my valskerm gebars. Die skok was oorweldigend. Dit was te laat om die noodvalskerm oop te maak. Teen 140km/h het ons saam grond toe geval. Ek was oortuig dat ons sou sterf. Sowat drie sekondes voordat ons die grond tref, het ek desperaat na God uitgeskree: ‘Here, help my!' My hoop was dat God vir hierdie louwarm gelowige genadig sou wees in die hiernamaals.

Ons het die grond so hard getref dat ek en Deon sowat 'n meter hoog gehop het. Geskok het ek my oë oopgemaak en besef dat ek steeds leef. Langs my kon ek Deon hoor roggel voordat hy stil geraak het. Een van die springers was 'n paramedikus. Hy het geland en dadelik vir Deon probeer help. Toe dit lyk asof Deon nie meer asemhaal nie, het hy na my gehardloop. Sy woorde was: ‘Boeta, die bloed loop uit by jou oë, neus en mond. Kan ek vir jou bid?' Hy het sy hand sentimeters bo my gehou en begin bid. Die lewe het teruggekom en 'n intense pyn het deur my geskiet. Op presies daardie oomblik het Deon gehoes en begin asemhaal.

Ons is hospitaal toe. Die dokter was uit die veld geslaan dat my ingewande nie gebars het nie. Met 17 frakture (12 uit die 16 ribbes was gebreek, my linkerbeen was op 4 plekke gebreek en my nek ook op 'n paar plekke), is ek vir 'n MRI-skandering ingestoot. Dáár in die tonnel het ek begin bely waar ek oral in my lewe verkeerd gegaan het. Ek het vir God dankie gesê dat Hy my gevang het. Dit was verseker my tweede kans op lewe.

'n Lang herstelpad het voorgelê. Beide ek en Deon het oorleef. Saam met die fisiese genesing het my siel ook genesing ontvang. Vir die eerste keer lees ek my Bybel. Ek luister aanbiddingsmusiek eerder as wilde rock-musiek soos vroeër. Ek vir die eerste keer kan ek sê dat ek 'n verhouding met God het. Dit het 'n bonatuurlike goddelike ingryping geverg om my tot stilstand te ruk. Ek het na God uitgeroep. Hy het my geantwoord en vandag kan ek nie anders as om Hom daarvoor te eer nie."

Hannes is reg. Wanneer ons na God uitroep, hoor Hy ons. In Psalm 50:15 lees ons immers: "Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer." Ook in Jeremia 33:3 lees ons: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord . . ." En in Psalm 18:7 lees ons: "In my nood roep ek na die Here . . . In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my."

God hoor wanneer ons na Hom uitroep oor ons finansies, huwelike, gesondheid of gebroke verhoudings. Kom ons sê by voorbaat dankie en eer Hom vir sy vermoë om bonatuurlik te antwoord! Sterkte.

Vader God baie dankie dat ons na U kan uitroep in ons oomblikke van nood omdat U daar is. Help my asseblief om bewus te raak van U teenwoordigheid om my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto's van Hannes Pieterse:
  o www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.