Charlea Grey 

Julle moet weet dat 'n mens se liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is. God het sy Gees vir julle gegee om in julle te woon. Daarom behoort julle nie aan julleself nie. God het duur betaal toe Hy julle gekoop het vir Hom. Daarom moet julle vir God prys met julle liggame.1 Korintiërs 6:19-20, Bybel vir Almal
 
Maak tyd vir jouself. Ek weet, ek weet. Jy wonder dalk ook: Wánneer moet ek tyd maak vir myself as ek ’n gesin versorg, die verkeer elke dag moet aandurf, werk, kosmaak, kinders in die bed kry en boonop huistake moet verrig. Dan het baie mense ook deesdae ’n tweede werk of "side hustle" wat hul aande in beslag neem om die boeke te laat klop.
 
Hóé maak ’n mens dan tyd vir jouself? Hoe?
 
Eerlikwaar, ek weet self ook nie altyd nie. Ek sukkel ook om vir myself tyd te maak. Dit voel soms of daar gewoon net te veel balle in die lug is.
 
’n Kollega het eendag toe ek oorweldig en moedeloos in haar kantoor gesit het, vir my gesê om juis aan al die balle te dink en myself af te vra: Watter bal mág nie val nie? Watter balle sal nie weer aanmekaar gesit kan word, as dit moet val nie? Watter balle is van kristal? Watter balle kan dalk hop?
 
Ek het dadelik aan my kind gedink. En my man. Maar ek het later ook besef my eie welstand – my geestes- en fisiese gesondheid is ook ’n kristalbal wat versigtig hanteer moet word.
 
In 1 Korintiërs 6:12 staan daar: “Ek weet julle sê 'n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir 'n mens nie …”
 
Het jy al ooit na die instruksies geluister voor ’n vliegtuig opstyg? Veral die deel oor die suurstofmaskers. Die kajuitbemanning sal gewoonlik iets in die lyn van die volgende sê: “Plaas die masker oor jou neus en mond en haal gewoonweg asem. As jy saam met kinders reis, maak seker jy het jou eie masker aan voor jy jou kinders help.”
 
Daai stukkie bly my altyd by. Jy kan nie ander help as jy nie jouself help nie. Jy gaan nie na ander kan omsien as jy nie na jouself ook omsien nie.
 
Jy gaan nie jou geliefdes kan help om hul tenkies vol te maak as jou eie dolleeg is nie. Jy gaan nie God se wil vir jou lewe kan uitleef, as jy nie na jouself kyk nie – fisies én emosioneel.
 
God het ons só lief. Hy heg waarde aan wie en wat ons is.
 
Dit is daarom belangrik dat ons na onsself moet omsien. Maak dit jou doelwit in die volgende week om iewers ’n tydjie vir jouself af te knyp en iets te doen, wat jou siel verkwik. Dalk is dit om tyd te maak om iets interessant te lees. Dalk moet jy vir ’n halfuur in stilte sit en koffie of tee drink. Dalk moet jy vir ’n paar aande vroeg gaan inkruip. Dalk moet jy tyd maak om te begin oefen. Dalk werk dit om ’n ent te gaan stap en vars lug te kry.
 
Doen iets wat goed sal wees vir die tempel van die Heilige Gees.
 
Gebed: Here, ek weet U het my lief en U wil hê ek moet na myself ook omsien wanneer dinge dol raak. Help my om tyd te vind om asem te skep en tussen al my verpligtinge en take, ook tyd te maak vir myself. Amen.