Charlea Grey 

Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle.  Jeremia 29:11, Bybel vir Almal
 
’n Paar weke terug het ons Paasfees gevier.
 
Maar kom ek gee net eers ’n klein bietjie konteks voor ek met my storie verder gaan. Ons dogtertjie het vandat sy haar mond aan vaste kos gesit het, ’n baie goeie eetlus. Ons lag al te lekker daaroor maar ons is natuurlik baie dankbaar vir ’n kind wat (tot nou toe) goed eet.
 
Sy is ook redelik avontuurlustig en is bereid om enigiets te probeer. As haar pa iets uit die yskas haal is sy langs hom en roep hard en dringend “Hap! Hap! Hap!”
 
So sit ons toe op Goeie Vrydag in die kerk. Nagmaal word bedien en terwyl die brood en kelkies wyn en druiwesap uitgedeel word, sien ek reeds hoe hierdie kind se oë eers nuuskierig en toe verlangend rondkyk. ’n Familielid gee toe vir haar so tussendeur ’n klein slukkie druiwesap uit een van die kelkies.
 
Nodeloos om te sê, moes ek en my man albei daarna ons kelkies wyn met ons lewens verdedig. (Probeer gerus om met ’n peuter te redeneer, veral in die kerk. Dit toets jou op vlakke wat jy nie geweet het moontlik is nie.)
 
Die les wat ek toe sommer net daar in die kerkbanke leer? Jy kan nie altyd alles kry wat jy wil hê of wat jy dink jy nou wil hê nie. Jy kan net nie. En soms is dit beter so.
 
God weet wat ons nodig het, Hy weet wat vir ons goed is en Hy weet wat nié vir ons gaan goed wees nie. Hy verstaan ook waarom. Net soos wat ek geweet het hoekom ek nie my kelkie nagmaalwyn vir my dogtertjie kan gee nie.
 
Die moeilikste deel is om te vertrou dat God beter weet en dat hy ook die perfekte tydsberekening sal hê wanneer hy in jou behoeftes voorsien. Dis soms moeilik om nie soos ’n amper-tweejarige aan te dring om jou sin te kry nie ...
 
Die ding is, ons weet nie altyd wat in daai kelkie is wat ons so graag wil hê nie – al lyk dit belowend en lekker. God wéét en ons moet daaraan vashou.
 
Gebed: Here, help my om te onthou dat U as my Vader weet wat ek nodig het. U weet wat vir my goed is. Help my om te besef dat ek nie altyd my sin kan kry nie, maar dat daar ’n rede daarvoor is, selfs al verstaan ek dit nie dadelik. Amen.