Imogen Campbell 

Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Openbaring 21:1-2, 1983-vertaling
 
Ek gaan afsluit soos ek begin het – met Jerusalem en met 'n dringende versoek vir gebed vir hierdie plek wat vir God so belangrik is.
 
Aangesien ons in die pylvak van Lydensweek is en oor die dood, begrafnis en opstanding van ons Here Jesus Christus besin, is dit veilig om te sê dat Jerusalem deel uitmaak hiervan.
 
Dit was letterlik 'n paar dae voor die geweld van die kruisiging dat Jesus, soos deur die profete voorspel is, triomfantlik Jerusalem op 'n donkie binnegery het. Jesus het geweet dat Hy slegs 'n paar dae later sy lewe buite hierdie stad sou aflê.
 
Die nag voor die kruisiging, na 'n sweet- en bloeddeurdrenkte tyd van gebed in Getsemane aan die voet van die Olyfberg, het Jesus vasberade opgestaan. Hy was gereed om tot die dood toe gehoorsaam te wees in 'n tweestryd met die duiwel. Wat volg was die verskriklikste ding wat die mensdom ooit aan God gedoen het: ons het die God-mens doodgemaak.
 
Tog, dit was daar by Golgota wat Hy Satan heeltemal uitoorlê het. In Kolossense 2:15 lees ons: "Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer."
 
En Jerusalem is ook die plek van sy tweede koms, die Wederkoms soos dit bekend staan. En dit gaan wonderlik wees. Die vorige keer is Hy doodgemaak – die Lam van God het sonder klagte in gehoorsaamheid gesterf. Hy het Homself nie verdedig nie.
 
Wanneer Hy weer kom, sal die Leeu van Juda niemand gevange neem nie. Hy kom weer met 'n leërskare van gelowiges en engele en elke knie sal buig en elke tong sal erken dat Jesus Christus die Here is. (Filippense 2:10-11)
 
Jerusalem is 'n klipgooi weg van die plek waar Jakob, die man wat God Israel genoem het, 'n droom gehad het. Daar is die belofte wat aan Jakob se oupa, Abraham, en aan sy pa Isak, gemaak is, vir hom bevestig. Jerusalem en sy bestaan is nog altyd so omstrede as wat vrede in die Midde-Ooste kortstondig is. En tog, eendag gaan daar 'n nuwe, hemelse Jerusalem wees.
 
In hierdie belangrike tyd van die jaar vra ek dat julle vir Jerusalem, vir Israel, sal bid en dat die waarheid van God se Woord 'n impak sal hê op mense wat nog ons geliefde Jesus, die Messias, moet ontmoet.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die grootste geskenk wat U aan ons gegee het: Jesus. Ons loof U en eer u Naam. Amen