Ewald Schmidt 

Daar is … 'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat ... Prediker 3:2a,7b, 1983-vertaling
 
Hierdie is nou een van die belangrikste verse in jou hele lewe. Dis waar die meeste van ons moeilikheid vandaan kom. Die woorde wat ons gebruik in ons lewe, maak baie saak. Psalm 34:13-14 waarsku: “As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.” Die beroemde hoofstuk oor ons tong vind ons in Jakobus 3. Vers 5 sê “ So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.”
 
Daar is ‘n tyd om stil te bly. Ons sondige natuur maak baie gebruik van ons tonge. Ons wil altyd die laaste woord inkry. Ons wil onsself verdedig ten alle koste. Ons wil mense antwoord wat ons sleg sê. Ons gebruik soms lelike woorde, dikwels kwaai woorde. Dit kan ons in groot moeilikheid laat beland. Elkeen van ons kan dink aan woorde wat ons wens ons nooit gesê het nie. Woorde kan baie seer maak, en verhoudings vernietig. Daarom leer ons om ons woorde versigtig te kies. Is dit wat ek so graag wil sê, regtig nodig? Is dit die waarheid, is dit vriendelik? Indien nie, waarom wil ek dit gebruik? Wanneer die Here ons gees en gedagtes nuut maak, wil Hy ons graag ook help om ons tonge te tem, sodat ons wyse woorde kan praat.
 
Maar dan is spraak een van die mooiste gawes wat die Here vir die mens gegee het. Van die begin af het ons die vermoë gekry om woorde te gebruik om met God te praat. Gebed is seker die mooiste vorm van spraak. Die Here het ons die vermoë tot woorde gegee om met mekaar te kommunikeer. Ons woorde het ‘n kreatiewe mag. Ons kan woorde gebruik om mekaar aan te moedig en op te bou. Liefdevolle woorde is goed om te hoor. Spreuke 10:11 sê “die woorde van die regverdige bring lewe en geluk.” Spreuke 15:4 sê “kalmerende woorde bring lewe.” Hoeveel konflik in ons lewe kon vermy geword het wanneer ons dalk net betyds, op die regte manier, met mekaar gepraat het? Soveel misverstande word deur woorde, of gebrek aan woorde, veroorsaak. Daarom is dit goed om soms die moed bymekaar te skraap, en die regte woorde te praat waar daar stukkende verhoudings is. Dalk is dit nodig om die woorde “ek is jammer, vergewe my …” meer te gebruik. Die woorde “dankie” en “ek is lief vir jou”, of “ek waardeer jou” maak gewoonlik ‘n groot verskil in ons lewe. Wees vrygewig met jou opbouende woorde aan ander. Dit maak die wêreld ‘n beter plek.
 
Gebed: Here, baie dankie dat U vir my ‘n tong gegee het, en die vermoë om woorde te gebruik. Help my om stil te bly wanneer dit die beste opsie is. Gee my die krag om wrede woorde te sluk. Maar help my om mooi woorde te gebruik, wanneer ek met U praat, of wanneer ek met die mense rondom my kommunikeer. Mag my woorde ook vir U aanneemlik wees, en opbouend vir my naaste wat my hoor. Amen.