Xanthe Hancox

Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.  Psalm 115:1

Die meeste van ons wil graag daardie soort persoon wees wat, wanneer ons die Here se hand in iemand anders se lewe of bediening sien, bly wil wees oor daardie persoon se sukses.

Maar vir baie van ons is dit nie die realiteit nie. Wanneer iemand anders daardie leierskapposisie kry wat ons so graag wou hê, of die erkenning wat ons begeer, bevraagteken ons dikwels ons eie waarde eerder as om bly te wees dat die Here besluit het om daardie persoon te gebruik. Ons vra die vraag "Hoekom daardie persoon?" "Hoekom nie ek nie?"

Soms lei dit daartoe dat ons 'n hele lys in ons gedagtes maak van hoekom ons dit meer verdien en dat ons beter gekwalifiseerd is vir die taak. Soms neem dit ons op daardie verskriklike pad van kritiek en karaktermoord.

In die gelykenis van die talente (Matteus 25:14-30) het Jesus nie gesê dat die Here die man met vyf talente liewer gehad het as die een wat twee talente ontvang het nie. Stel jou voor as ons ontvang wat ons eintlik verdien. Ons verdien nie geleenthede, invloed of eerbetoon nie. Inteendeel, ons verdien die dood en die hel.

En tog, deur sy genade het God ons gekies, nie as 'n bewys van hoe lief Hy ons het of van hoe kosbaar ons is nie, maar wel om deur gebroke sondaars soos ons sy krag te vertoon. God gebruik jou nie omdat jy so belangrik is nie, maar wel omdat Hy is. Hy het jou nie nodig nie, maar Hy wil jou graag hê.

Kom ons hou op om onsself met ander te vergelyk en rus in die almag, goedheid en wysheid van God wat ons liefhet en Homself vir ons geoffer het. Wanneer die Here sy heerlikheid bewys in iemand anders se lewe, talente of deur dit wat daardie persoon bereik, moet ons op geen manier probeer om Hom van die heerlikheid te beroof wat Hom alleen toekom deur te vra hoekom ons dit nie gekry het nie. Dit het van die begin af nooit aan ons behoort nie.

Gebed: Help my om u hand in die lewe van ander te sien en skenk aan my die genade en wysheid om saam met hulle bly te wees en U te verheerlik. Amen