Xanthe Hancox

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite 'n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.  Psalm 127:1-2

Ons almal weet dat luiheid vrugteloos is, maar hoeveel van ons dink dat harde werk nutteloos kan wees? Die lewe is betekenisloos as ons nie saam met die Here en vir Hom leef nie.

Dit is die punt wat Psalm 127 maak, wanneer ons lees: "As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs." Dit beteken nie dat ons moet terugsit en verwag dat die Here die werk moet doen nie. Maar indien ons God nie in ons beplanning ken nie, sal dit wat ons doen heeltemal misluk.

Ons benodig 'n hoër doel as om net 'n bestaan te maak, of die korporatiewe leer te klim, of vir ons aftrede te beplan. Ons moet met God se doel vir ons voor oë, beplan. Soos die skrywer van Spreuke sê: "Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas." (Spreuke 19:21)

God het 'n plan vir ons. Ons is geroep om koninkrykbouers te wees, elkeen op sy eie manier en plek. Die vraag aan elkeen van ons is hoe gebruik ons ons gawes, ons talente, ons hulpmiddels en selfs ons beperkings om deel te wees van God se bouprogram?

So, werk hard met dit wat jy ontvang het vir so lank as wat jy kan en kry genoeg slaap. Vertrou dat die Here se wil sal geskied. Hy sal alles bereik wat Hy deur jou wil doen.

Gebed: Dankie Here, dat U ons uitnooi om te help om u koninkryk te bou. Wys ons u plan en help ons om saam met U te bou. Amen