Xanthe Hancox

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. Psalm 22:2-3

Wanneer dit by ons geloof kom, is dit nie maklik om oor twyfel te praat nie. Ons is geneig om frustrasie, hartseer en seerkry eerder onder die mat in te vee. Ek weet want ek doen dit! Ons sing eerder gesange en lofliedere en konfronteer nie dit wat ons deurmekaar maak of laat twyfel nie.

Die Psalms probeer nie die mens se pyn wegsteek nie. Eerder as om ellende weg te steek, bid die psalmdigter daaroor. In Psalm 22 gee Dawid uiting aan sy verraad, eensaamheid en woede.

Psalm 22 is deur Jesus aan die kruis aangehaal. God se eie Seun het al ons pyn en ellende versamel en saam met Hom na die kruis geneem. As die middelpunt van die Christelike geloof is dié God wat vir ons gely het. Wanneer ons aan Psalm 22 dink, onthou ons die verlatenheid, maar toe Jesus vers 2 aangehaal het, het Hy nie vergeet hoe die psalm eindig nie. Selfs toe Dawid volkome van God verlate gevoel het, kon hy steeds sê: "Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor." (v.25)

Jesus het die volle verlatenheid van vers 2 beleef, maar Hy sou nie vir lank verlate voel nie. Hy het geweet dat Hy weer die Vader sou sien – dat Hy aan sy regterhand sal sit en regeer. Die mens wat vir sonde gesterf het, is opgewek en as Seun tot die troon verhef.

Selfs na Jesus se onmeetbare gawe aan die kruis, ly ons steeds. Daar mag tye wees wat ons verlate voel. Gevoelens van verlatenheid en afwesigheid is iets wat almal beleef wat die pad van geloof bewandel.

Elke Christen spandeer soms tyd in die geestelike woestyn. Maar loof die Here, Hy is reg daar saam met ons in die woestyn!

Gebed: Vader, ons bid vir elkeen wat verlate voel. Ons bid dat U hulle sal vertroos en bewus maak van u teenwoordigheid. Ons bid dit in die Naam van ons Verlosser, wat vir ons gely het. Amen