Xanthe Hancox

God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela … Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. 

Psalms 46:2-4,7

Vers 2 van vandag se psalm is moontlik een van die verse in die Bybel wat die meeste aangehaal word, maar ek wonder hoeveel van ons glo dit werklik – dat God vir ons 'n toevlug en beskerming is, dat Hy ons Beskermer en die Bron wat ons nuut maak is.

Die Hebreeuse woord wat in vers 3 met "skuif" vertaal word, kom ook in vers 7 voor waar dit met "wankel" vertaal word. Die Hebreeuse woord wat in vers 4 met "druis" vertaal word, kom weer in vers 7 voor waar dit met "raas" vertaal word. Die gebruik van dieselfde woorde hier vorm 'n brug tussen die gedeeltes en bewys aan ons dat dit nie saak maak of ons deur die natuur (met aardbewings en vloede en storms, verse 3-4) of deur politieke onrus of oorloë bedreig word nie, of ons wêreld nou geskud word deur die natuur of deur die nasies, God is ons toevlug.

En Hy is nie net 'n toevlug vir ons nie, maar 'n Bron van vrede en vernuwing. Vers 7(b) beskryf God se reaksie op die nasies wat raas soos volg: "as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg." Sy reaksie op die skuimende waters van die see is om vir ons 'n ander soort water te word – 'n rivier (nie die ontstuimige see nie) – 'n rivier waarvan ons lees: "Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, … " (v.4)

Word vanoggend stil en weet dat God die enigste ware God is, dat Hy deur die nasies geloof en geprys sal word, en dat sy koninkryk ewigdurend is. Vind jou toevlug en vernuwing in die Woord van God.

Gebed: Here, soms is dit moeilik om te sien en glo dat U werklik vir ons 'n toevlug en beskerming is. Help ons om stil te word in u teenwoordigheid en om te sien hoe U vir ons omgee, selfs wanneer alles uitmekaar val.  Amen