Xanthe Hancox

… want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie.  Psalm 73:3-5

Soms lyk die lewe so onregverdig. Soms wonder 'n mens hoekom is dit dat sommige gesinne die een probleem na die ander ondervind, terwyl ander net voorspoed geniet. Hoekom het sommige mense alles wat hulle benodig, terwyl ander met minder as niks moet klaarkom nie?

Alhoewel ek dit haat om te erken, is die versoeking soms groot om afgunstig te wees. Oor die jare het ek geleer hoe belangrik dit is om hierdie versoeking te herken, sodat wanneer ek daaraan toegee, ek die nodige stappe kan neem om op die waarheid te fokus en my houding te verander

Psalm 73 beskryf die lewens van mense op wie ons maklik afgunstig kan wees. "Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop!" (v.12) Gelukkig stop die psalm nie daar nie, en die Here wys ons hoe om weg te draai van 'n hart vol afguns na 'n hart vol dankbaarheid.

"Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is." (vv. 16-17)

As ons probeer om sin te maak van ons omstandighede of dit met die van ander vergelyk, voel dit onvermydelik of ons aan die kortste end trek. Ons sal altyd iemand vind wat 'n beter lewe het, 'n beter werk, 'n gesonder liggaam of wat iets het wat ons so graag wil hê, maar nie kan kry nie.

Die sleutel is om op te hou probeer om meer te verstaan as wat God geopenbaar het, en eerder op die liefdevolle doel van ons Vader vir ons lewens te vertrou, en ons met die waarheid van sy Woord te vul.

Hoe dwaas is dit nie om diegene met afguns te bejeën wat miskien nou gerieflik leef, maar vir ewig verlore is nie. En hoe dwaas is dit nie om afgunstig te wees op ander gelowiges wat iets het wat ons wens ons gehad het, terwyl ons 'n God dien wat doelgerig in elkeen van ons lewens werk om dit wat ons desperaat benodig aan ons te gee: meer van Homself.

Gebed: Hemelse Vader, verander asseblief afguns in dankbaarheid wanneer ons besef dat geen pynlike omstandighede in hierdie wêreld met 'n hopelose ewigheid geskei van Jesus vergelyk kan word nie. Here, help almal wat vandag met moeilike vrae worstel. Trek hulle nader na U en maak hulle bewus van u teenwoordigheid. Amen