Xanthe Hancox

Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee? … Ek is uitgeput van verdriet, … Psalm 6:3-4,7

Dit is heel moontlik nie 'n verrassing om te hoor dat die meeste tipe liedere in die Psalms nie lofprysinge is nie, of selfs nie dankgesange nie, maar klaagliedere. Soos baie van ons, was Dawid ook nie altyd lus om God te loof of prys nie. Menigmaal vind ons dat ons eerder by God om hulp roep, Hom smeek om ons te genees, dinge reg te stel en ons te red.

Neem byvoorbeeld Psalm 6. Moeilike omstandighede in sy lewe het Dawid sy sonde laat besef, en hy smeek God om hom te red. Maar daar is ook teen Dawid gesondig. Psalm 6 beskryf sy groot pyn en verwarring. Te midde van hierdie verwarring sê die Here nie vir Dawid, en vir ons, om maar net vas te byt, te glimlag en 'n vrolike lied te sing nie. Hy nooi ons uit om Hom van al ons hartseer te vertel.

God sien en ken ons verwarring en Hy vee dit nie onder die mat nie, maar Hy erken dit.

Lees die psalm volledig en jy sal sien hoe Dawid se pyn en verwarring vinnig in oortuiging verander. Hy verander van iemand wat kwyn en smeek (v3), na iemand wat oortuig is dat die Here sy gebed gehoor het (v9). Hoe doen die Here dit?

Die antwoord is in die psalm. Deur die handeling om met die Here te praat en te onthou wie Hy is en wat Hy ons beloof het, word geestelike gesondheid te midde van verwarring herstel. Klaagliedere soos hierdie is nie oefeninge in selfbejammering of om dinge erger te maak nie. Dit is eerder oefeninge in die goddelike herstel van ons geestelike gesondheid. Deur hierdie oefeninge beweeg ons in die gees van die verwarring wat ons beleef na reoriëntasie, en verkry ons weer die nodige geesteskrag om ons omstandigehde te kan verduur totdat God dit op sy regte tyd aanspreek.

Jy sê miskien: "Dit is alles goed en wel vir Dawid. Hy was die koning van God se uitverkore volk. Natuurlik het die Here sy gebede gehoor! Maar ek is letterlik maar net een van miljarde Christene in die wêreld. Hoe weet ek dat die Here na my gebede luister? Kan ek soos Dawid sê: 'Die Here het geluister na my smeking, die Here het my gebed aangeneem'? Is my vertroue enigsins naby die van Dawid?"

Jy kan net soveel vertroue as Dawid hê. Inderdaad, in Christus het ons baie meer.

Gebed: Dankie Here, dat U ons uitnooi om U aan te roep. Dankie dat U ons hoor en dat U in u tyd ons sal antwoord. Dankie dat U, tot daardie dag aanbreek, alles wat ons nodig het aan ons sal gee om ons omstandighede te kan verduur. Amen