Xanthe Hancox

’n PSALM van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Psalm 103:1-2 (1933/1953-vertaling)

Praat jy soms met jouself? Dawid het! Wel, ek weet nie of hy gesprekke met homself oor Israel se belasting gevoer het nie, maar ons weet van hierdie psalm dat hy sy eie siel aangesê het om die Here te loof.

Hoe het hy dit gedoen? Eerstens het hy homself herinner wie die Here is en wat God gedoen het (v.7: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade"), en dan in Psalm 103:8 haal hy 'n spesifieke teksgedeelte aan: "Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid."

Dawid haal Eksodus 34:6 aan. As die kern van sy selfgesprek het Dawid 'n spesifieke teksgedeelte in gedagte – 'n gedeelte wat dikwels deur Ou Testamentiese outeurs aangehaal word te midde van sonde (Joël 2:12), hartseer (Klaagliedere 3:21-23) en pyn (Psalm 86:15).

Dawid onthou hierdie teks en begin om al die implikasies daarvan te ontleed – God se toorn hou nie vir altyd aan nie, sonde word sover as die ooste verwyderd is van die weste van ons verwyder, en God se liefde sal vir ewig bly want Dawid behoort aan Hom (Psalm 103:9-19).

Dawid word diep hierdeur geraak. 'n Siel vol twyfel word vry en is vol lof en prys. 'n Diepe dankbaarheid vind uiting in woorde. Hy kan dit nie inhou nie. "Loof die HERE, o my siel!" (Psalm 103:20-22)

Wanneer jy met jouself praat, herinner jy jou aan wat God vir jou deur Jesus Christus gedoen het? Wanneer jy donkertye beleef, loof die Here! Vind spesifieke gedeeltes in die Bybel wat jou help om in geloof voort te stry – miskien 'n paar kort gedeeltes soos: Matteus 28:20; Hebreërs 13:5-6; Jesaja 41:10; en langer gedeeltes soos Romeine 8:26-39; Johannes 10:7-18 en Psalm 103!

Gebed: Here, ons loof U met die hele skepping vir wat U gedoen het. Ons prys U veral omdat U Jesus gestuur het om u ganse skeppping van sonde en dood te verlos. Amen