Xanthe Hancox

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. Psalm 94:18-19

Die digter van hierdie psalm verklaar dat as God hom nie red nie daar niemand anders is wat kan nie. Sommige glo koning Dawid het hierdie psalm geskryf. Dit is 'n goeie raaiskoot aangesien Dawid hom baie keer in doodsgevaar bevind het en slegs kon ontsnap omdat God hom gered het.

Of dit nou Dawid was of nie, die psalmdigter word gepla deur deurmekaar, verwarrende en angstige gedagtes. Hy wend hom tot God om hulp en word ondersteun meer as wat hy hom ooit kon voorstel. Die bemoediging wat God voorsien is so intens en opbeurend dat hy nie net vertroos word nie, maar baie bly word. Dit getuig van vertroosting wat kragtig en substansieel genoeg is om ons normale neiging om ons te bekommer en angstig te wees, om te keer.

God is ons Trooster, ons Helper, ons Here. Slegs Hy kan aan ons rustelose, mismoedige siele, troos en blydskap skenk. Kom ons wend ons tot Hom en bely eerlik ons sondes en hartseer. Kom ons vra Hom om al die angs weg te neem en die passie, vreugde, en vertroue van ons verlossing terug te bring.

Hierdie psalm het 'n jong, Duitse komponis, Julius Reubke so geïnspireer dat hy die "Sonata in C mineur (94ste Psalm)" gekomponeer het. Hy het dit voltooi kort voordat hy op 24-jarige ouderdom aan tuberkulose gesterf het. Vir my is dit 'n wonderlike stuk orrelmusiek en jy kan hier op YouTube daarna luister.

Gebed: Here, te midde van al die geraas en verwarring wat baie probleme in my gedagtes veroorsaak, benodig ek u troos en vrede. Maak my bewus van u teenwoordigheid en genade. Amen