Xanthe Hancox

Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here 'n toevlug, 'n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat diƩ wat vra na u wil, nie in die steek nie. Psalm 9:2,10-11

Ek sit en skryf by my kombuistafel wat nou my kantoor by die huis is. Ek deel hierdie wonderlike werkspasie met my man (wat baie telefoonoproepe in 'n baie harde stem beantwoord), ons kleuter (wat die kas met bakbenodighede oopgemaak het en tans besig is om patroontjies op die vloer met die bruismeel te maak), en ongeveer 17 ongewaste koffiebekers. Miskien wanneer Mei aanbreek en julle hierdie lees, is die beperkings opgehef en ek weer terug by die werk waar ek my koffie in vrede kan drink.

Vir nou is baie van julle, soos ek ingeperk in ons huise om onsself en ons gemeenskappe teen die koronavirus te beskerm.

So ongemaklik as wat my werkstoestande ookal mag wees, dit is nie wat my regtig bekommer nie. Ek vrees vir die veiligheid van my gesin. Ek is bekommerd oor my ouers, oor my ouma wat in 'n versorgingsoord bly. Ek is bekommerd oor ons werk. Ek dink aan diegene wat reeds 'n verlies aan inkomste het, reeds siek is, wat reeds geliefdes verloor het. Dit is werklik op alle gebiede 'n tyd van nood.

In Psalm 9 (lees die hele psalm) gee Dawid vir ons 'n bloudruk om ons te help om opnuut op God te fokus en troos en 'n toevlug by Hom te vind.

Gebed: Here, help my om u hand in hierdie tye van nood te kan sien. Help my om altyd u goedheid raak te sien en om U altyd te loof en prys. Dankie dat U altyd vir my 'n toevlug en skuilplek is. Amen