Louise Gevers

Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie. Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar. Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels; Psalm 85:9-11

Nadat Jesus opgestaan het, het Hy "in die loop van veertig dae" aan sy dissipels verskyn "en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat". (Handelinge 1:3) Elke keer het Hy hulle geloof versterk en die opdragte wat hulle voorheen ontvang het bevestig. Hierdeur het Hy hulle toegerus om van sy opstanding en leringe op so 'n manier te getuig dat hulle, geïnspireer en bekragtig deur die Heilige Gees, met sy sending in die wêreld kon voortgaan.

Soos die Heilige Gees hulle gelei het om dinge beter te verstaan, het hulle uit 'n staat van angs na dapperheid beweeg. Is dit nie betekenisvol dat ons reeds vyf en dertig dae – byna veertig – ingeperk is nie, 'n tydperk waar baie van ons meer tyd het om op prioriteite in ons lewens te fokus en, veral in hierdie buitengewone tyd, na te dink oor hoe God in ons eie situasies werk en te besef dat "vir God is alles moontlik.”? (Matteus 19:26)

Paasfees is agter toe deure gevier, en tog is ons opnuut deur die Heilige Gees toegerus en deur 'n beter begrip van dit wat ons glo, versterk. Wanneer die grendeltydperk verby is en ons 'n "nuwe normaal" betree, sal ons beter toegerus en bekragtig wees om die volle potensiaal daarvan aan te gryp, geïnspireer omdat "ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." (Romeine 8:28)

In vandag se vers uit 'n psalm, geskryf toe God se volk in nood verkeer het, bring die Here deur die priester troos. Luister ons na wat die Here in ons huidige situasie aan sy kinders sê? Miskien is daar baie wat ons na die beëindiging van die grendeltydperk kan verbeter. Dit is iets wat vir alle tye geld, maar ons is geneig om wanneer dit goed gaan nie ons omstandighede te waardeer nie, maar wanneer dinge verkeerd gaan besef ons wat ons waardes werklik is en wie ons regtig kan vertrou.

Die Minister van Finansies het baie positief gepraat oor hoe om hierdie krisis as 'n geleentheid te gebruik om nuut te begin, eerder as om dit net as 'n bedreiging te beskou. Hy het gepraat oor hoe om dit te gebruik om die Suid-Afrikaanse ekonomie op so 'n manier te herstel dat die mense wat voorheen werkloos was, werk sal kry; nuwe dorpe met genoegsame behuising vir almal gebou sal word; en met 'n nuwe nasionale lugdiens te begin instede van om te probeer om iets met so baie beperkings te laat herleef.

Kom ons verlaat hierdie grendeltydperk met nuwe begrip, bekragtig en onderskraag deur die Gees, om Jesus se sending voort te sit. Kom ons kyk nie terug nie, maar beur voort in geloof om Hom deur liefde te eer, met die besef dat sy verlossende genade steeds in ons land is, en deur geregtigheid en vrede te aanvaar.

Gebed: Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.  (Efesiërs 3:20)