Louise Gevers

… want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. 2 Korintiërs 1:19-20

Ons almal ken die teleurstelling, selfs pyn, wat in 'nee' opgesluit is, maar dit is wonderlik om 'ja' te hoor as die antwoord op 'n belangrike vraag, soos, "Sal jy met my trou?" of "Sal ek gesond word?" of "Sal God my vergewe?". Selfs babas leer die waarde van hierdie woorde op 'n vroeë stadium, 'n liefdevolle 'ja' teenoor 'nee'. Dit verander nie in ons volwasse lewe nie, om een of ander rede het ons altyd 'n lys versoeke wat daardie klein woordjie 'ja' benodig.

Beide 'ja' en 'nee' is inherent kragtige woorde met lewensveranderende potensiaal, en niemand hou van, of trek voordeel uit, die verwarring wat teenstrydighede meebring nie.

Paulus, in sy skrywe aan die gelowiges in Korinte, sê hierdie wonderlike ding: Jesus antwoord nie net 'ja' nie, Hy is die "ja van God" in die vervulling van al sy beloftes. Hy maak alles moontlik. Paulus verseker hulle dat daar geen teenstrydighede in Jesus is nie: sy woorde is betroubaar, eerlik, opreg en onveranderlik en dit sal nooit vergaan nie. (Lees Matteus 24:35) Wanneer ons in Jesus glo, kan ons al God se beloftes glo want Jesus was die volmaakte vervulling van hierdie beloftes. Hy is vir ons die 'Ja' op al hierdie beloftes en Hy kan tot in ewigheid vertrou word.

Hy is die 'Ja' want Hy het die volmaakte offer geword om God se regverdige oordeel te bevredig en die wêreld van sonde te verlos. Hy is die 'Ja' want Hy maak die ewige lewe moontlik (Johannes 3:16) en Hy is die 'Ja' as ons Hoëpriester en Verdediger. Om met onbelyde sondes te leef, is soos om deur golwe omsluit te word wat dreig om ons te oorweldig en te vernietig (2 Samuel 22:5-6) maar Jesus se dood en opstanding het die krag om die sonde wat ons vernietig oorwin, want "as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader" (1 Johannes 2:1) as ons in Hom glo.

Hy is die 'Ja' van ons verlossing want Hy het vir ons gedoen wat ons nie vir onsself kon doen nie; Hy het gesterf om die 'nee' van ons sondige lewens in sy volmaakte reinheid te verander. Hy het ons skoon gewas vir 'n ewige lewe saam met Hom want "deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak." (Hebreërs 10:14) En die 'ja' is ons s'n wanneer "… ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken." (1 Johannes 2:3)

Die 'ja' in Christus stel ons in staat om vol vertroue te wees "dat God, wat die goeie werk in [ons] begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom" (Filippense 1:6) wanneer ons finaal sy 'ja' sal ontvang om tot in ewigheid by Hom te woon.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die dawerende 'Ja' is wat ons "meer as oorwinnaars" maak in enige moeilike tye wat ons ondervind. Dankie dat niks ons van u liefde kan skei nie. Amen