Louise Gevers

Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam. 1 Kronieke 29:11-13

Hierdie pragtige lofprysing vloei uit koning Dawid se dankbare hart nadat hy, en sy volk onder leiding van hulle leiers, ruim en gehoorsaam aan die Here tot die bou van die tempel bygedra het. Dawid het selfs sy "besit aan goud en silwer" gegee (1 Kronieke 29:3) bo en behalwe alles wat hy reeds vir die bou van die tempel gegee het. "Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. (1 Kronieke 29:9)

In 'n onlangse artikel word Suid-Afrika eervol vermeld oor sy vinnige reaksie om 'n grendeltydperk in te stel, en sodoende effektief lewe bo rykdom te stel. Die land kry ook erkenning vir die eensgesindheid onder die mense wat gevolg het, alhoewel daar erken is dat groot uitdagings op die land wag. Elke keer wat president Ramaphosa die nasie toespreek, is hy sekerlik diep bewus van die probleme wat hy moet aanspreek en die gevegte wat hy op alle gebiede moet veg om die mense effektief deur hierdie stresvolle tyd te lei.

Ons harte gaan uit na hom wanneer 'n mens die swaar las wat hy moet dra in sy woorde kan aanvoel. Wanneer hy sê: "God seën Afrika" word sy oë sagter, miskien in danbare erkenning dat die finale beheer in God se hande is. Soos ons president, is ons ook swak, onvolmaakte mense, kragteloos om, ondanks ons edelste bedoelings en beste pogings, die uitkoms van ons lewens te beheer. Om God wat ons liefhet en ons lewens kan beheer, te vertrou, is die beste ding wat ons kan doen.

Ons het die Here in hierdie wêreld en in ons lewens nodig. "Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd." (Psalm 145:14-15)  "Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” (1Petrus 3:12) Hy kan selfs "in die woestyn 'n pad [maak en} in die droë wêreld riviere [laat] ontspring. (Jesaja 43:19) "Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy." (Psalm 18:31)

Vervul sy grootsheid ons met die nodige ontsag? En vervul sy liefde ons met dankbaarheid en lof?

Gebed: Liewe Vader, alhoewel ons omstandighede vandag baie verskil van dié van koning Dawid wat U in groot blydskap genader het, wil ons U dank dat in ons swaarkry ons steeds bly kan wees want ons weet U is steeds "die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Openbaring 4:8) U is ons hoop in hierdie moeilike tye en ons kan tot U om hulp roep. Help ons om verenig te wees en om van onsself te gee soos U ons lei. U alleen is "waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang" (Openbaring 4:11) en om ons te lei en ons nasie te genees. Amen