Louise Gevers

Jubel, hemel! Juig, aarde! Sing vrolik, berge! Die Here het vir sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was. … Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my.  Jesaja 49:13,15-16

Wat 'n wonderlike prentjie skets Jesaja nie hier vir ons van God se ontferming oor sy kinders nie. Deur die prentjie van 'n moeder met haar baba aan die bors, ontlok hy by ons die gevoel dat hierdie vurige, teerste liefde moontlik, 'n illustrasie is van God se liefde vir sy kinders. Alhoewel hier na Jerusalem verwys word, is God onveranderlik en so is sy hart vol ontferming wat Hy deur Jesus, sy Seun aan almal ontbloot het. Ons word met ontsag vervul wanneer ons besef hoe intiem God ons ken en die baie maniere wat Hy sy teenwoordigheid in ons lewens bekend maak.

Ek het dit ondervind op die dag wat die grendeltydperk aangekondig is. Iemand het my gevra om 'n boodskap af te lewer wat my tot in die middestad sou neem. Ek was bekommerd oor dringende dinge wat ek moes doen, asook oor die negatiewe effek van hierdie onbekende virus op ons land. Ek is ook deur onderbrekings vertraag, wat verder bygedra het tot my stres en daartoe gelei het dat ek later vertrek het as wat ek verwag het. En tog, wat 'n wonderlike reis was dit nie op die ou einde nie!

Dit was ideale tydsberekening toe ek die radio-omroeper hoor sê dat pres Ramaphosa die nasie tot gebed opgeroep het, daardie aand en om toe te luister na die pragtige, roerende lied wat op die program gevolg het. Die lied het die Here se grootheid vereer en Hom as die Allerhoogste erken. My gees was verkwik by die gedagte dat ons president Suid-Afrika opgeroep het om na God te kyk in hierdie moeilike tye en om in gebed te verenig. Luisteraars regoor die land was geraak deur hierdie oproep en die lofied het daartoe bygedra. My reis om 'n gewone boodskap te gaan aflewer, het 'n belangrike ondervinding geword wat verder bevestig is toe die aflewering van dié boodskap 'n opbeurende geleentheid geword het.

Toe ek vertrek, het ek onverwags iemand ontmoet wat blydskap uitgestraal het omdat die Here vir hom en sy gesin voorsien het, te midde van moeilike omstandighede wat deur die grendeltydperk aan die gang gesit is. Ons kon kortliks met mekaar deel voordat ek, gevul met blydskap, weggestap het verwonderd oor God se oneindige goedheid vir sy kinders en oor die volmaakte manier wat Hy elkeen van hulle kan bereik. Diep geraak, het ek besef dat God se liefde baie verder as ons begrip gaan; Hy ken werklik ons intieme behoeftes en beantwoord hulle – niks is te groot of te klein nie.

Gebed: Here, U is wonderlik. U is " 'n Vader vir weeskinders en 'n beskermer van die reg van weduwees" en deur [U] krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink." (Psalm 68:6, Efesiërs 3:20) Help ons om altyd te onthou dat ons die instrumente is waardeur U werk om u ontferming aan diegene in nood te bewys. Amen