Louise Gevers

… die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Hebreërs 12:2-3

"Hou Hom voor oë … dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie," sê die skrywer van Hebreërs. Deur te fokus op Jesus en die gebeure van sy laaste week op aarde terwyl Hy die kruis nader, gee ons 'n idee van die stryd wat Hy, as volkome mens en volkome God, moes verduur en dit kan ons bemoedig. Wanneer ons moeilike tye beleef, kan ons Jesus vertrou om ons te verstaan en om by God, ons Vader, vir ons in te tree want Hy kan kan medelye met ons swakhede hê want "Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp … " (Hebreërs 4:15)

Ons word deur twee sake gekonfronteer: die feit dat Jesus bewus is dat sonde die mens van 'n Heilige God skei, en sy menslikheid wat Hom as een van ons identifiseer en ons nader aan Hom bring omdat Hy ons situasie verstaan. In die week tot aanloop van sy dood, beklemtoon Hy die ernstige gevolge van sonde deur die vyeboom, simbolies van Israel, te vervloek omdat dit geen vrugte dra nie. Hy het ook die handelaars en die geldwisselaars in die tempel uitgejaag en deur gelykenisse het Hy diegene veroordeel wat die profete verwerp wat God gestuur het, asook diegene wat beplan het om sy Seun dood te maak.

Jesus as God, volmaak in sy liefde vir die skepping, was die enigste aanvaarbare offer om die wêreld van sonde te verlos, en Hy het die weg tot verlossing vir almal oopgemaak en die skoongemaakte tempel " 'n huis van gebed vir al die nasies" gemaak. (Markus 11:17)

As 'n mens, het Jesus die stryd teen die kragte van versoeking en die bose, met al sy bedrieglikheid en pyn, ervaar. Hy het ook die frustrasie om misverstaan en deur ongeregtiges veroordeel te word beleef, asook die pyn en vernedering van die kruis. Wanneer ons die oog op Jesus hou, word ons geїnspireer deur sy opregte verlossingsplan, en dat Hy nooit toegelaat het dat  lyding Hom afskrik of sy wil om dit te verduur, verander nie.

Wanneer ons op Jesus fokus en wat Hy in hierdie kritieke tyd deur ons kan doen, waar ons ons ookal in ons lewens bevind, en nie op onsself en die hindernisse in die pad nie, sal ons geȉnspireer word, geloof en krag ontvang om, ondanks hoe moeilik ons omstandighede mag wees, te volhard. Die volkome mens het sy sending op aarde voltooi en is nou by God in die hemel.

In jou uur van nood, sal jy jou tot Hom wend?

Gebed: Here Jesus, U is in alle opsigte volmaak. Dankie dat U as 'n mens na die wêreld gekom het om met ons te identifiseer en vir u begrip vir ons omstandighede. Help my om in hierdie dae op U te fokus, deur u liefde en genade bemoedig te word en om onwrikbaar my doel na te volg. Amen