Neville Turley

Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here. Sefanja 2:3

Die Boek Sefanja het net drie hoofstukke. Die sentrale tema is die oordeelsdag wanneer die volle gloed van God se toorn die hele aarde sal verteer in die vuur van sy woede. (Sefanja 1:1-2; 3:8)

Sefanja veroordeel Israel se ongeregtigheid en ongeloof. Hy gee 'n lys van vier sondes van sy mense: afgodediens (1:4-5), onverskilligheid teenoor God en ongeloof (1:6), aanvaarding van vreemde gebruike (1:8) en onetiese aksies, geweld en bedrog (1:9).

Sefanja draai geen doekies om wanneer hy waarsku dat op die oordeelsdag diegene wat nie langer glo dat God saak maak in hulle wêreld nie, asook die nasies wat hierdie standpunt onderskryf, vernietig sal word.

Hy waarsku dat dit 'n dag van skrik sal wees, 'n universele katastrofe wanneer die hele aarde verteer sal word in die vuur van God se woede. (1:18)

En dan offer Sefanja 'n baken van hoop. "Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here." (2:3)

Hy pleit by sy mense om die genade van God te soek, om te vas, hulle sondes te bely, nederig en getrou te wees en op die Here te vertrou. Sefanja se pleidooi val op dowe ore (3:2).

Die oordeelsdag is onafwendbaar en niemand sal dit kan ontvlug nie.

Hoe kosbaar is Jesus Christus se versekering aan almal wat in Hom glo: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.  (Johannes 5:24-27)

Wat 'n wonderlike Verlosser dien ons nie, ons baken van hoop.

Gebed: Hemelse Vader, Dankie dat ons die ewige lewe het in Hom wat saam met U en die Heilige Gees regeer. Een God, nou en vir ewig. Amen