Neville Turley

Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” Toe het Hy 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: “Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.” Markus 9:35-37

Markus vertel in hierdie deel vir ons van die tweede keer dat Jesus aan sy dissipels sê dat Hy gaan sterf en dat Hy na drie dae weer uit die dood gaan opstaan. Probeer jou voorstel hoe verward die dissipels moes gewees het! Markus vertel dat hulle nie verstaan het wat Jesus bedoel het nie en dat hulle te bang was om Hom te vra. (Markus 9:32) Matteus sê die dissipels was bedroef hieroor. (Matteus 17:23)

Maar soos die menslike natuur is, nie lank nie en die dissipels begin onder mekaar stry oor wie van hulle die belangrikste in die hemel gaan wees. Uiteindelik vra hulle vir Jesus. Ons vers vir vandag was sy antwoord.

Stel jou voor. Jesus neem 'n klein kindjie in sy arms en plaas hom voor die dissipels. 'n Kindjie wat in die Joodse samelewing van die tyd geen status gehad het nie.

In Galasiërs definieer Paulus hierdie gebrek aan status in die Joodse samelewing soos volg: "Hierby wil ek nog dít sê: Solank 'n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van 'n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom." (Galasiërs 4:1)

Deur 'n kind aan hulle voor te hou as 'n rolmodel, dwing Jesus sy dissipels om kreatief te dink!

Die dissipels wou weet watter een van hulle die belangrikste in die hemel gaan wees. Jesus se antwoord is dat hulle nooit die koninkryk van die hemel sal binnegaan as hulle nie bereid is om hulle selfbelang af te lê en soos kindertjies te word nie.

Jesus gee sy dissipels 'n radikale les oor nederigheid. Hulle moet geloof soos kinders hê – en dit het ook betrekking op ons!

Kindertjies het hulle ouers onvoorwaardelik lief en is afhanklik van hulle vir alles wat hulle nodig het. Hulle ouers is die fokus van hulle bestaan en beteken vir hulle alles.

Dit is ook hoe ons houding teenoor ons Hemelse Vader moet wees. Die beste manier om dit te doen is om Hom in alles eerste te stel en ander in sy Naam te dien.

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om ons harte vir die krag van die Heilige Gees te open sodat ons deur Jesus Christus, ons Here, U beter kan dien. Amen