Neville Turley

So sê die Here: 'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg. Jeremia 31:15

In Rut 4:11 word daar na Ragel en Lea, Jakob se vrouens, verwys as die vroue wat saam gebou het aan Israel – die moeders van die nasie. In ons vers vandag word Ragel voorgehou as Israel, die bruid van God wat treur oor haar verlore seun, haar eersgeborene – die stam van Efraim.

In die Matteus Evangelie lees ons dat hierdie profesie van Jeremia waar geword het toe Herodes beveel het dat alle seuns, twee jaar en jonger, wat in Betlehem en omgewing gewoon het, doodgemaak moes word. (Matteus 2:16-17)

Niks raak 'n mens dieper en laat jou meer met 'n gevoel van algehele skok en woede as wanneer jy hoor van kinders wat misbruik en mishandel word nie. Dit was met totale afsku wat ek 'n paar jaar gelede gelees het van die slagting van 148 kinders in Peshawar, Pakistan. Nie baie het verander sedert die kindermoorde in Herodes se tyd nie.

Kindermishandeling kom wêreldwyd voor. Onskuldige kinders is dikwels die slagoffers in ons gebroke, sondige wêreld.

Ouers, en diegene aan wie kinders toevertrou word, het 'n veeleisende verantwoordelikheid. Hulle moet alles moontlik doen om hulle kinders te beveilig. Dit is 'n plig wat hulle nie ligtelik kan opneem nie.

Soms word kinders juis deur diegene wat verantwoordelik is vir hulle sorg en veiligheid misbruik. Instede van 'n gelukkige, veilige omgewing bevind hierdie kinders hulle dan in 'n nagmerrie van pyn en lyding.

In 'n samelewing waar, volgens die Joodse Wet, vroue feitlik geen en kinders absoluut geen status gehad het nie, het Jesus sy houding teenoor kinders baie duidelik gestel. "Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Matteus 19:13-14

Jesus is die hoop en toevlug vir almal, jonk en oud, klein en groot, wat na Hom toe kom.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die hoop wat ons kinders in U het. Dankie dat U vir hulle 'n toevlug is. Here, bewaar hulle en skenk aan hulle geluk. Maak hulle asseblief bewus daarvan dat U vir hulle omgee. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen