Neville Turley

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Romeine 15:13

Daar is hierdie pragtige woordbeeld van die Here God wat in die tuin wandel en na Adam roep: “Waar is jy?” terwyl Adam en Eva wat geweet het dat hulle verkeerd gedoen het, besig was om vir Hom weg te kruip in die tuin. (Genesis 3:8-9)

Hulle was miskien die eerste mense om vir God te probeer wegkruip, maar hulle was definitief nie die laaste nie. Vandag probeer mense wat hulle skaam vir hulle aksies, dit steeds doen.

Dit is mos soveel makliker om vir God te probeer wegkruip eerder as om ons sondes teenoor Hom te bely. Om Hom te ignoreer en ons hoop op wêreldse strukture te vestig, is soveel aantrekliker. En tog, hoe jammer is dit nie, want dit is die pad van ongeluk en onheil.

Regdeur die Bybel is die boodskap helder en duidelik. God is die bron van ware hoop.

Die profeet Jeremia stel dit so duidelik. "Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe." (Jeremia 17:13)

Jeremia maak dit duidelik dat God beide die hoop van die nasies maar ook van elke individu is. Hy is ook baie duidelik oor die lot van diegene wat van God af wegdraai.

Die Christelike hoop spruit uit geloof in God en is ook onlosmaaklik daaraan verbind. Dit bekragtig die geloof dat dit wat God in Christus begin het op die laaste dag verwerklik sal word. "Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God." (Romeine 5:2)

Nou, dit is mos iets om na uit te sien. Die wete dat ons eendag in die heerlikheid van God sal deel, behoort ons harte met vreugde en vrede te vul.

Ons dien 'n groot en wonderlike God!

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die hoop wat ons in ons Here Jesus Christus het. Help ons om deur u Heilige Gees die verlossingsboodskap in die Naam van Jesus te verkondig. Amen