Neville Turley

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.  Psalm 23:1

Dit was Dawid, die skaapwagterkoning van Israel wat die ooreenkoms tussen God en sy kinders, en skaapwagters en hulle skape uitgelig het.

Die nag toe Jesus gebore is, was daar skaapwagters wat in die oop veld gebly en oor hulle skape wag gehou het. "Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn." (Lukas 2:9)

Hulle was baie bang, maar die engel het hulle bemoedig. Hy het vir hulle goeie tyding van groot blydskap gebring. Die langverwagte Messias is gebore. "En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!” (Lukas 2:12-14)

Onmiddellik na die engele weg is, het die skaapwagters na Betlehem vertrek. Daar het hulle alles wat die engel aan hulle vertel het, gesien.

Opgewonde het hulle alles wat aan hulle vertel is en dit wat hulle gesien het vir ander vertel. Hulle is toe terug na hulle skape terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het.

Jesus self het ook die ooreenkoms tussen Hom en 'n skaapwagter gebruik om mense oor sy lot in te lig en ook oor hoe sy Kerk uiteindelik sal groei.

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder." (Johannes 10:14-16)

Tydens 'n fees by die tempel word Jesus reguit gevra of Hy die Christus is. "Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie." (Johannes 10:25-28)

Dit is die kern van die Kersverhaal. Op daardie eerste Kerfees is die Verlosser, die Christus gebore.

Gebed:  Almagtige God, ons dank U vir die gawe van u Seun. Gee dat deur die Heilige Gees ons altyd sal onthou dat Hy ons Herder is en ons sy skape. Amen