Neville Turley

Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.  Jesaja 9:5-6

In die dae toe stadige pos (snail mail) nog aan die orde van die dag was, was Kerskaartjies baie gewild en ons vers vir vandag is dikwels in van die kaartjies aangehaal. So dikwels dat baie mense dit nou nie meer raaklees of oor die betekenis nadink nie.

God het as 'n mens na hierdie wêreld toe gekom. Hierdie feit behoort ons met ontsag en verwondering te vul.

Dit was die reddingsboei wat God reeds na die gebeure in die paradys aan die mens beloof het.

Ongeveer 700 jaar voor daardie eerste Kersfees het Jesaja reeds oor die geboorte van die Christuskind geprofeteer. God se plan om sy gevalle Skepping te herstel, sou van hierdie Kind afhang.

Te midde van al ons Kersaktiwiteite moet ons nooit vergeet dat ons Here Jesus Christus die rede vir ons feesvieringe is nie. Ons eerste prioriteit moet wees om aan Hom hulde te bring.

Matteus vertel ons egter van die dag wat Jesus weer gaan kom: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit ... " (Matteus 25:31-34)

Wat 'n wonderlike dag gaan dit nie wees vir diegene wat Jesus volg nie!

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u groot liefde wat U aan ons deur u Seun geskenk het. Gee dat die Heilige Gees ons op ons lewenspad sal lei en ons sal help. Amen.