Neville Turley

Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.  Lukas 24:27

Baie welbekende persoonlikhede skryf hulle outobiografieë. Sommige doen dit wanneer hulle aftree, ander weer wanneer hulle op die kruin van sukses is. Die lewensverhaal van Jesus is uniek in die sin dat dit reeds eeue voor sy geboorte in die Ou Testament opgeneem is.

Is dit moontlik dat dit daar ingevoeg is na sy aardse bediening? Nee, die Jode het elke woord en letter in hulle Heilige Boeke ywerig bewaar. Hulle sou nie toegelaat het dat daar met hulle Skrif gepeuter word om die saak te bevorder van 'n Messias wat hulle heeltemal verwerp het nie.

God, die Almagtige Vader, het oor die eeue die verhaal van sy Seun wat sou kom om sy lewe op te offer om ander van sondes te bevry, aan sy kinders openbaar.

In Psalm 22 lees ons reeds 'n volledige en aangrypende weergawe van die kruisdood van die Christus wat sou kom asook 'n beskrywing van die eindresultaat: "Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag."
(Psalm 22:30-31)

Die opgestane Jesus het Skrifgedeeltes uit die Ou Testament gebruik om die dissipels van sy opstanding te oortuig en hulle te motiveer om sy werk voort te sit. (Luke 24:44-45). Gevul met die Heilige Gees sou hulle, net soos ons vandag, sy hande en sy voete wees.

Psalm 22:32 eindig met die woorde: "... die Here het dit gedoen." Wat het Hy gedoen? Hy het God se verlossingsplan vir ons voltooi. Deur sy offer het ons die geskenk van verlossing ontvang en het ons die versekering dat ons, deur die genade van God, vir ewig in blydskap en vrede in die teenwoordigheid van God sal leef.

Dit is God se groot geskenk aan ons. Daar is geen beter tyd as juis gedurende hierdie Kerstyd om Hom daarvoor te loof en dank nie.

Gebed: Almagtige God, dankie vir u Woord. Help ons om gedurende hierdie Kerstyd op ons verhouding met U te fokus. Vul ons harte met die blydskap van u Seun, Jesus Christus en deur u Heilige Gees skenk aan ons genade en vrede. Amen