Neville Turley

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. Galasiërs 4:4-5

Terwyl die Jode met verwagting uitgesien het na sy koms, is die beskrywing van die ware Messias reeds in die Ou Testament geopenbaar. Ons lees in Jesaja 7:14 "Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem."  Immanuel beteken "God met ons".

'n Mens kan aanvaar dat toe die volk van Juda en Israel van hierdie profesie van Jesaja gehoor het, hulle net so verward en deurmekaar moes gewees het as Josef eeue later. 'n Engel van die Here het Josef verseker dat Maria swanger geword het van die Heilige Gees. "Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:18-24)

Eeue voor Jesaja het die Here reeds die volgende aan Natan geopenbaar: "Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. My trou sal Ek nie aan hom onttrek nie, soos Ek dit aan jou voorganger onttrek het.” (1 Kronieke 17:13)

Jesus is die Seun van God. Hy het as 'n mens na hierdie wêreld gekom. As 'n mens het Hy die volmaakte lewe geleef, 'n voorbeeld vir elkeen van ons. Regdeur sy bediening hier op aarde het Hy uitgereik na 'n wêreld wat in sonde verval is sodat elkeen van ons op individuele vlak met God kan versoen.

Paulus verduidelik: "En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak." (Galasiërs 4:6-7)

As 'n kind van God is jy sy erfgenaam, mede-erfgenaam met sy Seun, en Hy sal jou nooit verlaat nie en nooit ophou om jou lief te hê nie.

Daar is geen groter seën as dit nie.

Gebed: Vader, ons dank U vir die kosbare erfenis wat ons wat dit nie verdien nie met die geboorte van Jesus Christus ontvang het. Ons het nie woorde om ons dankbaarheid en vreugde te kan uitdruk nie. Alle lof, eer en verheerliking kom U, Vader, Seun en Heilige Gees, toe. Amen