Neville Turley

Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan.  2 Samuel 7:11-13

Natan, die profeet, bring aan Dawid die nuus dat die Here hom op 'n wonderlike manier gaan seën. Die Messias gaan 'n direkte afstammeling van Dawid wees.

Sedert die sondeval het God deur direkte openbaring aan sy profete en deur sy woord die belofte van die Christus wat gaan kom in die harte en gedagtes van sy kinders lewend gehou.

'n Engel van die Here het aan Abraham gesê: "In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.” (Genesis 22:18)

Die Here het sy belofte aan Abraham deur sy belofte aan Isak bevestig: Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. ... en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees." Genesis 26:4

Jesus was die beloofde saad van Abraham, Isak en Dawid. Sy geslagsregister is vir ons uiteengesit in Matteus 1.

Dikwels wanneer sy kinders moeilike tye beleef het, het die Here hulle herinner aan die Een wat Hy sou stuur: “Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam." (Deuteronomium 18:15) Jesus was dié profeet.

Te midde van al die Kersfeesvieringe kan ons mense in twee groepe verdeel. Daar is diegene wat vol van die vreugde van Kersfees is en wat dankbaar is vir die seëninge wat hulle ontvang het. Hulle deel hulle seëninge ook met ander.

Dan is daar diegene wat heeltemal deur hulle ontstellende omstandighede oorval is. Mense wat swaarkry, wat ly, eensaam is en glad nie weet na wie om hulle te wend vir hulp nie. Indien jy jou in hierdie kategorie bevind, onthou jy hoef nie jou laste alleen te dra nie. Wees gehoorsaam en wend jou na Jesus. Hy sal jou vertroos en by Hom sal jy hulp kry.

Gebed: Almagtige God, dankie vir die grootste geskenk wat ons in u Seun Jesus Christus ontvang het. Gee dat ons deur die Leiding van die Heilige Gees gehoorsaam aan u Woord sal wees. Amen