Neville Turley

Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.  Psalm 136:1

Oral waar ons deesdae kom, word ons daaraan herinner dat Kersfees 2019 op hande is. Die winkelsentrums is vol versierings en spesiale aanbiedinge. Elke winkel het een of ander spesiale aanbod waarmee hulle ons probeer aanspoor om te koop.

Dit is daardie tyd van die jaar wanneer denneboompies pragtig versier oral in die land in sitkamers hulle verskyning maak.

“Wat doen julle vir Kersfees?” is ewe skielik die mees algemene vraag wanneer mense mekaar ontmoet.

Kersfees is 'n hoogtepunt in die Christelike kalender, maar Kersfees het reeds 'n lang tyd voor die geboorte van die Christuskind 'n werklikheid geword. Die ware betekenis van Kersfees wat ons as Christene herdenk, het sy oorsprong reeds in die Tuin van Eden. Adam en Eva het geswig voor die versoeking van die duiwel wat in die vorm van 'n slang na hulle gekom het. God was met reg kwaad. Hy het die slang vervloek en Adam en Eva swaar gestraf. (Genesis 3:14-18)

God het wel die slang vervloek, maar nie vir Adam en Eva nie. Alhoewel Hy die duiwel vervloek het – “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15) – het Hy vir die mensdom 'n teken van hoop gegee.

Die hoop wat God aan die mensdom gegee het, was die belofte van die Christus wat sou kom. Hy sal uit 'n vrou gebore word en ja, Christus sal ly. "Daar sal vyandskap ... tussen jou nageslag en haar nageslag wees ..." maar Jesus sal Hom oorwin en "sy kop vermorsel". 

Goed sal kwaad oorwin. Die beloofde Christus sal die sonde oorwin.

Wat 'n liefdevolle God dien ons nie. Selfs toe Hy die mensdom gedissiplineer het, het Hy 'n reddingsboei van hoop na elkeen van ons uitgegooi. Sy enigste Seun is ons reddingsboei waaraan ons kan vasklou. Miskien is jy besig om in 'n moeras van sonde te verdrink, maar onthou: as jy uitreik na ons Here Jesus Christus, sal Hy jou red en genees.

Hy het ons gered en ons sondes vergeef en ons sal saam met Hom tot in ewigheid regeer. Dié wete behoort ons harte hierdie Kersfees te laat oorloop van vreugde en dankbaarheid.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u liefde so groot is dat U u enigste Seun gegee het sodat ons die ewige lewe kan hê. Gee dat u Heilige Gees ons sal help om tot verheerliking van U te leef. Amen