Benescke Janse van Rensburg 

Ek lees gisteroggend geskok ’n inskrywing op sosiale media van ’n vrou wat vertel dat rowers by hulle huis ingebreek het en haar man doodgeskiet het. Hulle het ook sy geliefde hond doodgeskiet wat haar man teen die rowers probeer beskerm het. Sy eindig haar hartverskeurende inskrywing af met een vraag: "Hoekom?!!!"

Terwyl ek die inskrywing lees, tref dit my dat daar heel moontlik ander mense is wat presies só oor die afgelope jaar voel. Dalk was dit ook vir jou ’n jaar wat jou lewe tot stilstand geruk het. Jy verstaan nie hoekom jou huwelik in 'n egskeiding moes eindig terwyl jy soveel hoop en geloof gehad het dat dit herstel sou word nie? Hoekom het jou geliefde steeds gesterf as jy soveel geloof vir sy of haar genesing gehad het? Jy verstaan nie hoekom jy steeds werkloos is, steeds alleen is, steeds nie swanger is nie. Dalk is daar in jou hart ook net een vraag: "Hoekom?!!!"

Terwyl ons nie al die antwoorde het nie, kan ons weet dat ons die Een aanbid wat wel die antwoorde ken. In Jesaja 55:8-9 sê Hy: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie . . . ; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes." In 2 Korintiërs 1:3-4 word ons herinner aan wie hierdie God is: "Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee."

Is dit God wat slegte dinge in ons lewens veroorsaak? Nee. Hy is 'n goeie God. Ons leef in 'n gebroke wêreld en die vyand is daarop uit om te steel, te slag en te verwoes. Hy gebruik mense om ander mense seer te maak en selfs lewens te verwoes. God is egter in staat om te genees en te herstel en dinge ten goede te laat meewerk. Hy is die Vader wat Hom ontferm oor ons en aan ons moed gee in moeilike situasies. Hy kan steeds die storms in ons lewens stilmaak. Kom ons vertrou Hom daarvoor. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die storm ook binne my kan kom stilmaak. Help my om nie soveel vrae te vra nie, maar om stil te word in U omdat U almagtig en soewerein bly. Skyn asseblief U lig in my situasie en kom genees my hart waar dit nodig is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir meer stories:
  o Webtuiste: www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Het jy die reeks geniet? Gee gerus jou terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.