Benescke Janse van Rensburg

Wat is dit wat veroorsaak dat God by sommige van ons gaan stilstaan? Wat trek sy aandag en beweeg sy hand?

'n Verlamde man op 'n draagbaar en 'n offisier in Kapernaum. Wat het hierdie twee mans in gemeen?

Toe die verlamde man en sy vier vriende sien dat die skare mense rondom Jesus hulle gaan verhoed om by Hom uit te kom, het hul 'n plan bedink. Hulle het bo-op die huis se dak geklim, die dakteëls verwyder en hul vriend met toue op sy mat tot voor Jesus afgesak. In Lukas 5 lees ons dat hierdie mans se geloof Jesus diep geraak het. Luister na sy reaksie in Lukas 5:24: "Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe." Die verlamde man is in daardie oomblik van sy verlamming genees. Hy het opgestaan en huis toe vertrek terwyl hy aangehou het om God te prys.

In Matteus 8 lees ons van 'n offisier in Kapernaum wat na Jesus kom om hom te vra om sy slaaf in pyn te genees. Toe Jesus aanbied om saam met hom na sy huis te gaan, antwoord die offisier: "Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word." Jesus was verwonderd deur die man se geloof. In Matteus 8:10 sê Hy: "Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie." Die offisier se slaaf was in daardie oomblik genees.

Geloof trek God se aandag. In 2 Kronieke 16:9 lees ons: "Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou." Ook in Matteus 17:20 sê Jesus: "As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: 'Gaan staan daar anderkant!' en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie."

God sien raak wanneer ons 'n stap van geloof neem. Ook sien Hy raak as ons Hom bly vertrou vir 'n deurbraak omdat ons weet dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Geloof laat God stilstaan en dit beweeg sy Hand. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u liefde en genade. Ek kies vandag om my geloof in U te plaas sonder om toe te laat dat twyfel of vrees my lamlê nie. Beskerm my en bewaar my en hou my veilig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir meer: www.benescke.co.za of
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.