Benescke Janse van Rensburg

Vroeër die maand het die 11-jarige Rebecca Munkombwe van Hwange in Zimbabwe op 'n krokodil se rug gespring en haar vingers in sy oë gedruk om sodoende haar maatjie, die 9-jarige Latoya Muwani se lewe te red. Die dier, wat besig was om Latoya onder die water in te trek, het haar laat gaan en sy is met ligte beserings na die hospitaal gehaas.

Daagliks is daar krokodille rondom ons, wat dreig om ons onder die water in te trek. Daardie persoon buite jou huwelik wat jou vlinders in jou maag gee, daardie verbode transaksie wat so aanloklik lyk, daardie ekstra glasie wyn op 'n dag wat jy weet jy nie meer sonder kan klaarkom nie. Soms sien ons hoe die krokodille van ons vriende onder die water begin intrek. Wat is ons reaksie? Staan ons passief omdat ons niemand wil aanstoot gee nie of reik ons juis in liefde uit omdat ons nie wil sien hoe enige krokodil verwoesting saai nie?

In Matteus 5:29-30 lees ons: "As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie."

As jy weet daar is 'n krokodil wat in jou lewe rondswem, maar jy het tot dusvêr nie die moed gehad om dit te verwyder nie, is vandag dalk jou dag. Verbreek kontak met daardie persoon wat jou huwelik bedreig, stap weg van die transaksie wat jou ongemaklik laat voel omdat jy van jou integriteit moet inboet of maak die oproep na die rehabilitasiesentrum as jy voel asof die verslawing die oorhand in jou lewe kry.

Wanneer ons swak is, is God sterk. Spring op, druk jou vingers soos klein Rebecca in die krokodil se oë sodat dit wegswem. Dit mag dalk jou lewe red. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die geskenk van vriende. Help ons asseblief om braaf genoeg te wees om mekaar te red as krokodille dreig om ons onder die water in te trek. Versterk my ook asseblief vandag om weerstand te bied teen enige krokkodil in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto by www.benescke.co.za of
  o Stories van Hoop bladsy op Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Stories van Hoop op Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.