Benescke Janse van Rensburg

Die Staat Administrasie van Pers en Publikasie (SAPP) in China het Dinsdag 'n aandklokreël vir aanlynvideospeletjies vir kinders onder 18 jaar in die land aangekondig. Geen kind mag meer tussen 22:00 en 08:00 aanlynspeletjies speel nie. Weeksdae se speeltyd is tot 90 minute per dag beperk en naweke en vakansiedae tot 3 ure per dag. Dié reël is deel van die land se strategie om digitale verslawing onder jongmense in te perk.

Het jy al dopgehou hoe ons samelewing in die digitale wêreld verander het? In stede van sit en gesels met die persoon langs jou in 'n wagkamer, is dit veel makliker om 'n selfoon uit te haal en deur sosiale media te kyk of om iets te soek op die Google-soekenjin. Soms sit mense selfs in 'n restaurant oorkant mekaar terwyl beide op hul selfoonskerms kyk.

Ek kan nie help om te wonder watter effek 'n beperking op skermtyd in ons land sal hê op gesinne, huwelike en selfs gemeenskappenie? Sal ons skielik meer tyd vir mekaar hê? Sal minder sosiale media veroorsaak dat ons onsself minder met ander vergelyk? Sal ons meer na mekaar luister? Sal ons selfs God se stem duideliker kan hoor? So goed as wat tegnologie vir ons kan wees, kan dit ons ook van spesiale oomblikke beroof.

In Levitikus 19:4 lees ons: "Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God." In Deuteronomium 5:8-9 staan geskryf: "Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God . . ."

Wanneer is iets in ons lewens 'n afgod? Dit word een sodra dit 'n groter plek in ons hart beklee as die Een wat ons gemaak het – ons weelde, uiterlike skoonheid, ons kinders, kleinkinders, huweliksmaat, kos, werk, 'n stokperdjie of selfs 'n selfoon.

Kom ons vra God om ons te wys as daar iets in ons lewens belangriker as Hy is. Indien wel, kom ons stel grense in. Hy begeer 'n verhouding met ons elkeen en slegs dít vul ons waarlik met vryheid en vreugde. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek elke aspek van my lewe na U kan bring. Wys my asseblief as daar iets in my lewe is wat vir my belangriker as U is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.