Benescke Janse van Rensburg

’n Leser skryf vroeër in die week aan my: “Wat doen mens as jy te moeg is om terug te veg of die duiwel teen te staan?  Wat doen ek as dit voel of ek platgeslaan op die grond lê?” Was jy ook al daar? Dalk is jy nou daar.

’n Boksgeveg en dryfsand. Wat het hierdie dinge in gemeen?

Van die kant af lyk dit asof twee boksers in die kruit rondtrippel en tog te dankbaar is as hulle wel ’n hou inkry. ’n Kenner sal jou egter vertel dat boksers mekaar se spelpatrone vooraf ontleed om swakpunte te identifiseer. Só kan hul met elke hou strategies aanval om die opponent te verswak.

Die vyand val ons só strategies aan met die doel om ons van ons vreugde te beroof. In Nehemia 8:11 lees ons immers: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE - dit is julle beskutting.” Sonder vreugde is ons sonder beskutting.

Het jy al iemand dopgehou wat desperaatheid uit dryfsand probeer uitkom? Hoe meer só persoon spartel, hoe dieper sak hy of sy in die sand weg. Om dit te oorleef moet die persoon stilstaan en vir hulp wag. In stormagtige tye in ons lewens voel dit ook asof ons al dieper in “dryfsand” wegsak.

Die Psalmdigter was egter ook eens daar. In Psalm 40:2-3 lees ons: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.

Wat steel jou vreugde? ’n Ongeduldige huweliksmaat? Skuld wat jou oorweldig? ’n Siektetoestand? ’n Slegte werksomgewing? Stadige bestuurders in die verkeer? Werkloosheid? Gerugte van afleggings by die werk? ’n Uitdaging met een van jou kinders? Kom ons identifiseer dit sodat ons met God daaroor kan praat en Hom vra vir ’n strategie om ons vreugde te beskerm.

Kom ons hou ook op spartel en raak stil voor God. Kom ons vou ons hande na bo en laat Hom toe om ons uit die modder te trek. Hy kan enige storm stilmaak en ons opnuut met vreugde en krag vul. Kom ons prys Hom daarvoor. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Help my om op te hou spartel en volkome aan U oor te gee. Trek my uit die dryfsand en versterk my deur u Heilige Gees om met nuwe oë na my toekoms te kyk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

Sien video van dryfsand by www.benescke.co.za of
  Stories van Hoop bladsy op Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
  Stories van Hoop op Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.