Benescke Janse van Rensburg

Een van die inspirerende stories van die Springbokspelers wat vir my uitstaan, is die storie van die vleuel, Makazole Mapimpi.

Vyf jaar gelede was Mapimpi ’n 24-jarige jong man van Tsholomnqa in die Oos-Kaap. Iemand met ’n groot droom om vir die Springbokke te speel, maar vir wie dit onmoontlik gevoel het. Hy het immers nooit Cravenweek of SA skolerugby gespeel het nie. Die naaste wat hy aan sy droom kon kom, was om Sondag-Liga en later vir Grens te speel.

Met harde werk en deursettingsvermoë het Mapimpi se lewe in 2017 begin verander toe die Southern Kings vir hom sy eerste professionele kontrak aangebied het. In Junie 2018 het Mapimpi by die Springbokspan aangesluit. Die agterlynafrigter, Mzwandile Stick moes hard werk om hom gereed te kry om die hoë balle te vang. En die afgelope Saterdag het Mapimpi Suid-Afrika se eerste drie-drukker in ’n rugbywêreldbekereindstryd geword.

Wat my geraak het in Mapimpi se onderhoud met New Frame vroeër in die toernooi, is die storie van sy familie. Sy ma, Eunice het haar eie naaldwerkbesigheid besit voordat sy in ’n motorongeluk oorlede is. Sy suster, Zukiswa, wat ’n opgeleide suster was, is aan ’n breinsiekte oorlede. En Mapimpi se broer, Zolani, het sy been verloor nadat hy elektriese kabels probeer steel het en geskok is. Hy het later aan sy beserings beswyk.

As ’n mens dié storie hoor, klink dit soos een tragedie op die ander. Luister egter na Mapimpi se perspektief op al hierdie slegte dinge: “As my ma en suster steeds geleef het, sou ek heel moontlik nie in Japan gewees het nie. Beide was gekant daarteen dat ek rugby speel. Hulle het gevoel dat ek eerder moet gaan studeer of ’n werk moes kry. Natuurlik sê ek nie dit is ’n goeie ding wat hulle nie hier is nie. Hulle afwesigheid het my sterk gemaak en my laat voel dat my insluiting in die span God se plan vir my lewe is.” Vandag is Mapimpi ’n rolmodel vir ’n groot klomp plattelandse kinders om in hul drome te bly glo.

Dit is maklik om God in slegte tye te verwyt. Hoe kan iets goed immers kom uit ’n egskeiding, die aflegging by die werk, die dood van ’n geliefde, finansiële verlies of selfs siekte? In Jesaja 55:8-9 praat God egter self: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Ook in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het . . .

Mag ons in stede van kwaad wees en God bevraagteken, begin om Hom vir elke seisoen in ons lewens te dank. Waar ons ’n klein deeltjie sien, sien Hy die volle prent. Hy ken die toekoms en beloof om nooit iets oor ons pad toe te laat wat ons nie sal kan hanteer nie. Kom ons dank Hom vandag dat Hy in staat is om alles ten goede te laat meewerk in ons lewens. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my toekoms in U hande hou. Help my asseblief om nie mismoedig te raak in moeilike tye nie, maar eerder om te kies om dankbaar te bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van Makazole Mapimpi by www.benescke.co.za of
  Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ of
  Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.