Benescke Janse van Rensburg

Hy sit in die donker en hou jou dop. Hy slyp sy pyle om skerp genoeg te wees om seer te maak en te verwoes. Hy is ’n wolf in skaapsklere wat strategies aanval. Sy pyle het name. Aanstoot, bitterheid, skinderpraatjies, verwerping, vrees, ’n onvergewensgesindheid, woede, aggressie, hoogmoed, verslawing, wellus. Die doel is om ons van ons vreugde en vrede te beroof. Hy wil ons in vrees laat leef. Hoekom? Want dit maak ons kragteloos.

In Lukas 10:19 herinner Jesus Christus ons egter aan ons outoriteit oor die bose: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” Ook in 1 Korintiërs 15:57 lees ons: “Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” En dan in Jakobus 4:7 vind ons ’n waardevolle manier om dit te doen: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Wanneer laas het jy jou pyle skerpgemaak deur die Woord van God te lees en sy beloftes te memoriseer? Dit is die swaard in die wapenrusting. Wanneer laas het jy die skild van geloof opgetel om weerstand teen die pyle van die vyand te bied? Bid ons gereeld vir ’n muur van vuur van beskerming rondom ons en ons geliefdes? En hoe gereeld gebruik ons nagmaal as ’n bewys dat ons glo dat Jesus Christus vir ons gesterf het?

Vandag mag pyle in ons rigting geskiet word. Kom ons sien dit raak en tel ons skild van geloof op sodat dit nie ons harte bereik nie. Kom ons beskerm ons vreugde en vrede sodat ons vry en vreesloos kan leef. En kom ons onthou dat dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, binne ons woon en ons versterk wanneer ons swak is. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat U Jesus Christus gestuur het om namens ons te sterf. Help my asseblief om my outoriteit in U te verstaan en ook daarop te staan wanneer pyle in my rigting gestuur word. Help my om die vyand se aanvalle te erken en nie my vrede en vreugde te verloor nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

BELOFTES VAN GOD: As jy nie weet waar om te begin nie, klik op die Bybelgenootskap se webtuiste vir ’n leeslys wat jy kan volg. Alternatiewelik, klik op www.benescke.co.za vir ’n lys van 10 wat jy kan memoriseer.
 
Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.