Louise Gevers

maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. Jesaja 40:31

Ek sal altyd dankbaar wees vir die boek Job in die OuTestament. Reeds op 'n jong ouderdom het die boek my aangegryp en ek het dit vir baie jare oordink voordat ek besef het dat lyding en moeilike tye positief kan wees sowel as ook tot seën. Deur sy groot persoonlike lyding het godvresende Job die grootste moontlike seëning ontvang: om homself en God meer intiem te leer ken – "maar nou het ek U self gesien (Job 42:5) – en om te hoor hoe God in sy eie woorde sy geregtigheid bevestig. (Lees Job 42:7-9)

Wanneer dinge moeilik is en ons te klein en swak voel om dit te hanteer, het ons iemand sterk aan ons kant nodig, iemand met deernis vir ons lot. Jesaja 40 is 'n hoofstuk wat baie trooswoorde van God bevat wat sy kinders bemoedig. Moeilike tye is 'n lewensfeit en ons almal beleef dit tot 'n sekere mate op verskillende tye. Dit is egter hoe ons daarop reageer wat ons maak of breek. Of jy nou werkloos is, in 'n moeilike verhouding, 'n siek familielid verpleeg, of probeer om 'n huilende babatjie nag na nag te kalmeer, dit alles kan jou energie tap, maar dit kan ook 'n vrugbare geleentheid bied vir jou geloof om te groei.

'n Predikant na wie ek op 'n keer geluister het, het gesê dat 'n persoon se geloof word slegs geoefen wanneer sy omstandighede so verskriklik is dat hy net by sy vingerpunte nog aan God vasklou. Dit is dan dat hy uiters ontvanklik is vir dit wat God vir hom wil sê, en ook gereed is om in sy geloof te groei. Dit is logies dat as iets binne ons bereik is, die behoefte aan geloof soms verlore gaan. Om aktief te glo in iets wat nie gesien kan word nie, is geloof, want dit is "om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien" (Hebreërs 11:1) en dit word 'n seën van God.

Probleme soos haweloosheid, armoede, siekte, egskeiding, dood, verslawing en vervreemding – om maar net 'n paar te noem is moeilikhede waaroor ons geen beheer het nie en dit laat ons in wanhoop. Tog wat ook al ons probleme, as ons weet dat God aan ons kant is kan ons op sy ewige ware liefde vertrou en weet dat Hy aan ons nuwe krag sal gee om te kan voortgaan. "Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie,  Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer  kan nie." (Jesaja 40:28-29) Hy gee om vir sy kinders.

"So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." (Jakobus 2:26) Laat ons dan aan God in gebed vasklou, in sy Woord delf en gehoorsaamheid en vriendelikheid beoefen, terwyl ons op Hom wag om ons te seën.

Gebed: "Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin." (Psalm 251-2,4-5) Dankie dat U my moeilikhede in seëninge verander en my swakheid in krag. Amen