Louise Gevers

Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie,  maar tussen grafte. Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Lukas 8:27-29

Dit was nie lank nadat Jesus die storm op die meer wat sy dissipels angsbevange gelaat het, laat bedaar het dat Hy aan die oorkant van die meer deur 'n storm van 'n ander aard ontmoet is nie. 'n Man, besete van bose geeste het Hom met sy aankoms ontmoet en Hom herken as Jesus, die Seun van God die Allerhoogste. Hy het Jesus gesmeek om hom nie te pynig deur die bose gees wat in hom was weg te stuur nie. Hierdie man was duidelik nie by sy volle positiewe nie – wie kan nou die feit dat die bose gees weggedryf word as 'n pyniging beskou?

Miskien was dit deernis wat Jesus laat besluit het om hierdie individu te help, iemand wat nie eers meer klere gedra het, nie in 'n huis gewoon het en tussen die grafte rondgedwaal het; of miskien was sy beweegrede om sy goddelike gesag te handhaaf aangesien die man erken het wie Jesus was. Die man se hande en voete moes dikwels vasgebind word, maar elke keer het die bose gees hom met soveel krag op die grond gegooi dat die kettings gebreek het.

Hierdie uiterlike tekens was maklik waarneembaar, maar Jesus het ook die geestelike geveg raakgesien wat binne die man gewoed het en wat hy nie op sy eie kon wen nie. Die man was eintlik deur meer as een bose gees getreiter en weer eens het Jesus met gesag die storm wat in die man gewoed het gekalmeer, hom bevry en die duiwels in 'n trop varke ingedryf.

Die gelukkige einde word in Lukas 8:35 beskryf: "Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, …" Watter pragtige beskrywing, watter gevoel van verligting moes die man nie ervaar het daar waar hy in Jesus se geselskap gesit het nie en hoe betekenisvol is dit nie vir ons nie. 'n Persoon by sy volle verstand is redelik, samehangend en geestelik gesond – in staat om voluit te leef. Hy hoef nie noodwendig geestelik versteurd of fisies naak te wees om siek te wees nie. Soms, agter die groot glimlag, skuil daar 'n ontstelde gees.

Jesus is aan ons kant. Hy wil enigiets in ons verwyder wat ons vrede versteur en voorkom dat ons die oorvloedige lewe wat Hy bring, kan geniet (Johannes 10:10). Hy wil ons klee met sy geregtigheid sodat ons gered kan word. Jesaja skryf: "Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek … " (Jesaja 61:10) Is ons met sy geregtigheid geklee en is ons bly in Hom?

Gebed: Here Jesus ek bring alles wat my pla na U om in u genade verander te word. Dankie dat U in elke situasie vrede kan bring. Amen