Louise Gevers

Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” oe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.” Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit. Markus 7:26-30

Sy het uit die laagste van die samelewing van haar tyd, as 'n heidenvrou, na Jesus toe gekom. Sy het goed geweet dat daar in Israel dubbel teen haar gediskrimineer word, maar haar missie om jaar dogter te red, was belangriker as wat ander van haar dink. En haar geloof in die krag van Jesus was die dryfkrag. Haar aksies toon vasberadenheid en dryfkrag.

Die vrou wat gekom het om Jesus te smeek om haar dogter van 'n bose gees te red, het gehoor dat Hy baie ander genees het en sy het met haar hele hart geglo dat Hy haar kosbare kind kon bevry. Hy sou tog sekerlik barmhartig wees? Matteus noem dat sy Jesus oral gevolg het en Hom gesmeek het om haar genade te bewys (Matteus 15:21-28) totdat die dissipels Jesus gesmeek het om haar weg te stuur. Sy het verstaan dat Jesus se sending op daardie stadium op die Jode gerig was, maar sy het geglo dat God se genade groot genoeg vir almal is. Alhoewel sy besef het dat Jesus na haar, 'n heidenvrou, as 'n hond verwys het, het sy nie aanstoot geneem nie, want sy het die vergelyking in die lig van sy sending verstaan. Haar nederigheid was verrassend. Sy het nederig aanvaar dat sy maar 'n klein deeltjie in die groter prentjie was, maar sy het geweet dat sy hulp benodig wat slegs Hy kon gee.

Omdat sy nederig was, het sy ook die insig gehad om Jesus se vergelyking tot haar eie voordeel te gebruik.Sy bewys haar groot geloof in Hom deur net vir 'n bietjie te vra. Op 'n beskeie manier wys sy Jesus daarop dat honde nie meer verlang as die krummels wat oorbly nie, en dat dit genoeg sal wees om in haar behoefte te voorsien. Hoe dikwels, wanneer ons vir iemand of vir iets bid, wys ons volharding en nederigheid soos die van hierdie vrou?

Ons kan van haar beginsels leer. Eerstens, sy het geglo in die krag van Jesus om te genees, en om mense te bevry van dit wat seëninge en die lewe in sy volheid vernietig. Tweedens, sy is nie afgeskrik toe Jesus klaarblyklik haar pleidooie ignoreer nie, maar sy volhard om Hom te agtervolg totdat Hy met haar praat. Derdens, sy plaas haar geloof op 'n besliste manier in aksie deur te argumenteer teen Jesus se bewering dat die tyd nog nie ryp is vir Hom om haar versoek te beantwoord nie. Nogtans het sy onwrikbare geloof getoon. Laastens het sy nederig gebly.

En Hy het haar gebed beantwoord. Hy kan ons gebede ook beantwoord. Hy is aan ons kant.

Gebed: Here, U is die  God wat my altyd help, tot wie ek elke dag om hulp roep, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. (Psalm 88:2-3). Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. (Psalm 61:2)  Amen