Louise Gevers

Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. [Jode het nie dieselfde bekers en borde as die Samaritane gebruik nie.] Johannes 4:7-9

Die ongelukkigste oomblikke in die lewe moet sekerlik wees wanneer ons deur ander misverstaan of wanneer ons deur mense as anders beskou en geȉgnoreer word. Shylock, in Shakespeare se "Merchant of Venice", lewer skerp kommentaar oor hierdie anomalie wanneer hy praat oor die hartseer wat Jode op daardie stadium van die geskiedenis aan die hand van Christene ondervind het en hy sê: “If you prick us, do we not bleed? If you tickle us, do we not laugh? If you poison us, do we not die?” 

Diskriminasie is oral; dit is die wet van die oerwoud. Elke dier hou by sy eie soort en beskou ander diere met agterdog as iets wat of gevrees of opgevreet moet word. Mense doen dieselfde net op 'n meer gesofistikeerde manier, diegene wat anders is word met vooroordeel en onverdraagsaamheid op 'n afstand gehou asof hulle minderwardig is. Daardeur word hulle as mense wat na die beeld van God geskape is benadeel, eerder as dat hulle met respek aanvaar word. Hierdie verwerping is pynvol.

In sy ontmoeting met die Samaritaanse vrou wys Jesus sy unieke manier. Hy kyk na die volle persoon, nie net na die lae van verskille nie. Hy weet presies wat in haar lewe aangaan en tog behandel Hy haar nie met minagting nie, maar tree eerder met haar in gesprek, 'n waardigheid wat ander haar ontsê. Toe Jesus vir haar water gevra het om te drink, het Hy reeds geweet dat sy 'n Samaritaan is en al vyf mans gehad het en op die oomblik saam met 'n man bly met wie sy nie getroud is nie. Hy weet ook dat sy by die put kom water haal op 'n tyd wat sy nie die ander vrouens wat haar oor haar sondige lewe verwerp het, sal ontmoet nie. Jesus kies om haar behoeftes aan te spreek.

Soos die vrou van Samaria is baie van ons slagoffers van vooroordeel en voel dat ons afgeskryf word sonder dat mense ons raaksien of verstaan. Ander bevind hulle in situasies waar hulle deur hulle huidige omstandighede of deur hulle verlede veroordeel word. Wie jy ook al is, Jesus wil jou ontmoet en met jou gesels.

Die Samaritaanse vrou het Jesus by die put ontmoet en Hy het die waarheid en verlossing aan haar verkondig. Jesus sal jou ontmoet waar jy ook al is en dieselfde vir jou doen.

Gebed: Liefdevolle Here, ek is so dankbaar dat U my ken en dat U my behoeftes wil aanspreek. Help my om na ander te kyk soos U na hulle kyk en dieselfde genade wat U aan my bewys ook aan hulle te bewys. Amen